’n Aantal weke gelede het artikels insake die mishandeling van ouer persone deur my in Media24-koerante verskyn (Die Burger en Rapport), asook in twee radio-onderhoude.
Ek het heelwat navrae gekry oor klagtes by tehuise. Ek gee graag enkele riglyne in verband met moontlike klagtes:
- Tehuise lewer ’n diens. Die inwoners is kliënte en is geregtig om klagtes by die bestuur, die beheerraad of selfs die media aan te meld. Dit is hulle reg, veral as daar ’n algemene ongelukkigheid is. Aangesien ons ook hier te doen het met ouer persone, kan selfs hul kinders of ander naasbestaandes griewe namens hul ouers of familielid aanspreek. ’n Bestuurder of beheerraadslid mag inwoners of hul naasbestaandes glad nie keer, viktimiseer of probeer intimideer nie.
- Inwoners moet vryelik kan skakel met die inwonerskomitee om moontlike klagtes te bespreek. Dit moet gedoen kan word in ’n klimaat vry van enige intimidasie. Die bestuurder, beheerraadslede of personeellede behoort glad nie op die inwonerskomitee te dien nie.
- Die bestuurder is in diens van die beheerraad en kommunikeer en voer hul besluite uit. Dit beteken die bestuurder maak nie die huisreëls of besluit oor tariewe nie. Die beheerraad kry leiding van hul hoofkantoor.
- Ten spyte van drastiese dalings in staatsubsidies, behoort die beheerraad die verhoogde druk op tariewe in te faseer, terwyl die beheerraad en bestuur fondsinsamelingsprojekte inisieer om tekorte aan te vul.
- Die verswakte sorgeenheid word bestuur deur die suster in beheer. Enige verskuiwings in of uit die eenheid word deur die suster gemotiveer en dié verslag word aan die bestuurder gegee.
- Tehuise verkry toestemming van die departement van maatskaplike ontwikkeling om ’n verswakte sorgeenheid daar te stel of uit te brei. Só word minimum standaarde nagekom. ’n Bestuurder of beheerraad kan nie sonder die nodige skriftelike toestemming ’n eenheid open of die getal beddens vermeerder nie.
- Inwoners van tehuise behoort minstens een keer ’n jaar ’n naamlose vraelys te voltooi oor die diens (bv. kos, netheid), asook die bestuurder en personeel se optredes (bv. behulpsaam en vriendelik). Hierdie vraelyste behoort tweetalig te wees, sodat alle inwoners die vraelys verstaan en invul. Die inwonerskomitee moet die vraelyste uitdeel. Geen personeellid behoort teenwoordig te wees met die invul daarvan nie. Só word viktimisasie en manipulasie uitgeskakel.




