Mike Potgieter, Radio Tygerberg-omroeper, tydens sy besoek aan die AACL.

Die baie gewilde Radio Tygerberg Tyger Run/ Walk wat jaarliks op 21 Maart plaasvind, plaas vanjaar die kollig op ‘n organisasie wat daagliks ‘n tasbare verskil in diere se lewe maak – die Animal Anti-Cruelty League Cape Town (AACL).

“Die Tyger Run/Walk 2026 is die grootste padwedloop in die noordelike voorstede. Dit bring elke jaar die gemeenskap op ‘n ongelooflike manier byeen. Ons sien hoe mense hulself uitdaag, gesinne saam stap en atlete hul beste gee. Maar vanjaar gaan dit oor selfs meer – dit gaan daaroor om saam ‘n verskil te maak in die lewe van diere wat ons nodig het,” sê Rikus van Rooy, stasiebestuurder.

Die AACL is ‘n geregistreerde nie-regeringsorganisasie wat toegewy is aan die ondersteuning van minderbevoorregte gemeenskappe en die verbetering van dierewelstand oor Kaapstad heen. Hulle bied toeganklike veeartsenykundige dienste gebaseer op huishoudings se finansiële vermoë, sodat selfs gesinne met beperkte middele noodsaaklike sorg vir hul troeteldiere kan ontvang.

Benewens hul veeartsenykundige dienste, funksioneer die AACL as ‘n skuiling waar verwaarloosde en mishandelde diere ‘n veilige hawe vind. Hier ontvang diere mediese behandeling, rehabilitasie en die kans om liefdevolle, permanente tuistes te vind.

Waar hulle werk

Die AACL bedryf twee hoofpersele, in Epping en Bellville. Hul impak strek egter verder deur hul mobiele- kliniekprogram, wat gemeenskappe soos Klipkop, Brooklyn en Kuilsrivier bedien. Hierdie uitreikklinieke voorsien noodsaaklike dienste soos inentings en basiese veeartsenykundige sorg, wat nie net diere nie, maar ook die gemeenskappe wat vir hulle sorg, ophef.

Gemeenskapsteun maak dit moontlik

Die AACL se werk word grootliks moontlik gemaak deur skenkings en toegewyde vrywilligers. Hulle benodig ook herverkoopbare huishoudelike artikels, bric-a-brac, klere en skoene, handdoeke, skoonmaakmiddels, dierekos, speelgoed en komberse. Elke bydrae ondersteun hul veeartsenykundige dienste, skuilingsorg en uitreikprogramme.

“Met die Tyger Run/Walk wat om die draai is, nooi ons deelnemers en die publiek om die AACL te besoek, tyd saam met die diere deur te bring en dalk met ‘n hond te gaan stap of sommer net liefde en aandag te gee aan ‘n dier wat wag vir ‘n tweede kans,” sê Megan Beukes van AACL.

Deelnemers kan ook wanneer hul inskryf ‘n donasie maak ten bate van die AACL en só direk bydra tot die organisasie se voortgesette werk in Bellville, Epping en omliggende gemeenskappe.

Wedloopbesonderhede

Die Tyger Run/Walk vind op Saterdag 21 Maart in die Tygervallei-omgewing plaas. Die afstande sluit in ‘n 6km- pretstap/draf en 15km-padwedloop. “Inskrywings is nog net oop tot 8 Maart om middernag, of sodra die 8 000-deelnemermerk bereik word. Skryf dus eerder vroeër as later in,” sê Van Rooy.

Skryf in via Radio Tygerberg 104FM se webwerf en klik op die Tyger Run/Walk-banier, of besoek topevents.co.za.

Vir meer inligting oor die Animal Anti-Cruelty League Cape Town, skenkings, aannemings of vrywilligerwerk, stuur e-pos na info@aacl-ct.co.za, skakel 021 534 6426 of stuur ‘n WhatsApp na 071 121 7911.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article