’n Raadslid van The Hague in Delft vrees vir haar lewe nadat inwoners haar al begin dreig het weens gebrekkige kragvoorsiening.
Inwoners in sekere dele van Delft en Wesbank kla reeds ’n geruime tyd dat hul krag nie aangaan as beurtkrag verby is nie. In sommige gevalle is gemeenskappe tot so lank as 10 dae sonder krag en weet hulle nie hoekom nie.
Volgens Michelle Adonis, plaaslike raadslid, het die gemeenskap die einde van hul geduld bereik, maar kanaliseer hulle nie meer woede in die rigting van Eskom nie.
“Inwoners is keelvol. Hul lewensgehalte gaan agteruit weens beurtkrag en sommige inwoners het alles in hul yskaste verloor en is meer as kwaad. Hul woede is nou op my gemik, wat niks met kragvoorsiening te doen het nie. Wanneer hulle sonder krag sit, sit ek ook sonder krag,” sê Adonis.
Adonis sê sy vrees nou vir haar lewe.
“Ek moet daaglikse beledigings verduur. Dit word nou so erg dat ek regtig begin vrees dat die gemeenskap my leed kan aandoen en selfs doodmaak,” sê Adonis.
Haar soeke na verduidelikings deur Eskom val op dowe ore.
“Ek weet nie meer wat om vir die gemeenskap te sê nie, want hulle blameer my vir die kragprobleme. As iets met my gebeur moet dit voor die deur van Eskom gelê word, want ek weet nie meer wat om te doen nie,” sê sy.
In Eindhoven in Delft het woedende gemeenskapslede Vrydagaand die strate in gevaar om hul misnoeë met die kragsituasie uit te spreek.
Sommige het klein brande gestig en met dreunsang die kop van die raadslid geëis. Saterdag sou die gemeenskap na die plaaslike munisipale kantore opruk.
Luidens ’n verklaring deur Eskom het vandalisme ’n groot invloed op kragvoorsiening in die gebied.





