Die Kraaifontein-polisie ondersoek ’n saak van aanranding en poging tot moord ná die aanval op ’n polisiebeampte wat van diens af was.
Die konstabel verbonde aan die Ravensmead-polisiekantoor is aangeval toe hy ná werk omstreeks 03:45 by sy huis in Conray-straat in Peerless Park-Noord afgelaai is.
Volgens kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, is die beampte, wie se naam nie bekend gemaak is nie, in die regterkant van sy nek gesteek.
“Hy is na MediClinic Cape Gate vir noodbehandeling geneem. Al sy besittings was nog by hom. Mense met inligting oor hierdie steekvoorval word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te skakel,” sê Van Wyk.
Rob Bisset, voorsitter van die Kraaifontein-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het sy skok oor die voorval uitgespreek.
“Dit is uiters onaanvaarbaar en die GPF versoek lede van die publiek wat oor enige inligting oor die voorval beskik om dit so gou as moontlik aan die Kraaifontein-polisie te rapporteer,” sê Bisset.





