Die vier polisiebeamptes, onder wie een wat by die Bellville-polisiekantoor gestasioneer is, het weer gister (Dinsdag 15 Oktober) vir ’n tweede borgtogaansoek in die Wynberg-landdroshof verskyn, het die Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bevestig.
Mthuthuzeli Mafanya (33), Jacobus Adriaan Groenewald (44), Bradley Dimitri Minnaar (28) en Bathandwa Soldati (38) staan tereg op aanklag van huisroof met verswarende omstandighede.
Hulle is die afgelope maand deur die Wes-Kaapse teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem.
Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse woordvoerder van die NVG, sê die verdediging het hul eerste getuie, Groenewald, geroep om in sy borgtogaansoek te getuig.
Die vier het na bewering op Saterdag 14 September om 01:35 op ’n luukse Sunsetlaan-huis in Llandudno, wat volgens Netwerk24 aan ’n ryk Nigeriese filmvervaardiger behoort, toegeslaan.
Hulle het die buitelander en nog drie ander mense wat in die huis was na bewering met kabelbinders vasgebind, na die boonste verdieping van die huis gegaan en verskeie luukshede begin opraap.
Daar word beweer dat verskeie Rolex-horlosies wat met edelstene beslaan is, duur armbande, halssnoere, skootrekenaars, selfone, iPads en ander elektroniese toerusting in die voorval gesteel is.
Mafanya, verbonde aan die Bellville-polisie, is op Donderdag 19 September omstreeks 18:35 in hegtenis geneem.
Die beamptes het op Donderdag 3 Oktober hul verskyning in die hof gemaak nadat die klagte oorspronklik by die Houtbaai-polisie aangemeld is.





