Beamptes van die Bellville-polisiekantoor het onlangs ‘n veldtog by HTS Bellville aangebied waar hulle leerderst oor die ernstige gevare van boelie en kuberboelie ingelig het.
Die span, bestaande uit kapt. Shaun Adams, sers. Charles Neelse, sers. Marvin Boer en kapt. Gert de Villiers, het op ‘n interaktiewe wyse met die leerders oor die toenemende probleem gepraat.
Leerders is ingelig oor wat boelie en kuberboelie behels, hoe hulle dit kan rapporteer, en wat die regsimplikasies daarvan is. Daar is ook klem gelê op hoe ernstig die gevolge kan wees — tot so ver as selfmoord.
LEES OOK: Polisie waarsku leerders oor dwelms
“Ons wil graag die skool bevry van die misdryf en wil ook hê dat almal vrylik op skool moet beweeg en veilig moet wees,” het Neelse gesê.

Die beamptes is verheug oor die positiewe betrokkenheid van die leerders tydens die sessie. Water bewusmaking betref, rapportering en begrip van die wetlike gevolge, het die leerders sterk betrokkenheid getoon.
Hierdie besoek aan HTS Bellville is deel van ‘n reeks gemeenskapsgerigte inisiatiewe deur die Bellville-polisie. Die beamptes het ook vroeër aanbiedings gedoen by DF Akademie — waar leerders gewaarsku is oor die gevare van dwelms en alkohol — asook by Bellville City FC, waar jong spelers ingelig is oor kuberboelie en verantwoordelike gebruik van sosiale media.
Die boodskap bly dieselfde: die polisie staan saam met die jeug om ‘n veiliger, gesonder gemeenskap te bou — een skool en een klub op ‘n slag.




