’n Gebreekte muur wat vir ’n geruime tyd ’n bron van kommer was, is met die samewerking van die Glenwood-buurtwag en inwoners herstel en bied meer veiligheid aan die omgewing se inwoners.
’n Herstelde betonmuur van bykans 85 m dien nou as die skeiding tussen Glenwood se woonhuise in Yellowwood-singel en die Monte Vista-spoorlyn.
Net agter die spoorlyn het ’n groep haweloses hul intrek geneem – regoor Fort Ikapa – op ’n stuk oop grond, waarvan die nasionale regering die eienaar is.
Volgens Jas Visser, ondervoorsitter van die Glenwood-buurtwag, het haweloses wat nesskop teen die Monte Vista-spoorlyn, gedeeltes van die muur uitgetrap en gebreek. Dit het ’n deurgang en kortpad geraak vir dié mense, pleks daarvan om padlangs te loop.
Verder het dit ook ongelukkig gelei tot verskeie voorvalle in die area.
Prasa is al op verskeie vlakke genader om hulp omdat hierdie area ook die risiko skep van lewensverlies sóú iemand op die spoorlyn beland, maar dit was sonder enige sukses, sê Visser.
Misdadigers
Visser meen hierdie groep inwoners groei ongelukkig en word nou geïnfiltreer deur misdadigers, en dít is waar die probleem ontstaan. Verskeie versoeke om ingryping is al aan die Stad Kaapstad gerig, maar as gevolg van die hangende hofsaak teen die Stad kan tans nie veel uitgerig word nie.
Aangesien die muur reeds vir ’n geruime tyd ’n bron van kommer was, het die buurtwag ’n aksieplan in werking gestel om die “verkeers- en ontsnappingsroete” so ver as wat moontlik is te beperk, sê Visser.
“Inwoners van Glenwood het ons ondersteun en gehelp met die voorsiening van panele, die herstel van die gebreekte deel van die muur op eie koste en tyd, tesame met die Glenwood-buurtwag.
“Verf is geskenk sodat die kaal muur ’n ordentlike laag verf kon kry, wat gewis sal bydra tot die verfraaiing van die area. Die muur sal geverf word sodra die weer ’n bietjie beter raak,” sê Visser.
Die buurtwag is ook baie opgewonde oor die elektrifisering van die muur, wat moontlik gemaak is deur Goodwood Armed Patrols (GAP).
Dirk van der Berg, eienaar, meen dit is op sigself ’n geweldige hupstoot vir die veiligheid van die area. Dié deel van die projek sal binne die volgende twee weke afgehandel word.
Die elektrisiteit vir die heining is ook bewillig deur ’n inwoner van Glenwood.
’n Veiliger woonbuurt
Om veiligheid in hierdie area verder op te skerp, is daar ook reeds kameras geïnstalleer wat enige beweging kan dophou. Dit word 24/7 gemonitor – weer eens in samewerking met die Glenwood-buurtwag en GAP. Inwoners het ook hul WiFi en elektrisiteit vir die kameras gratis beskikbaar gestel.
Volgens Visser sou hierdie sukses nie behaal kon word sonder almal se samewerking nie.
“Die inwoners van Glenwood weet beslis dat ons as buurtwag alles in ons vermoë doen om ’n veiliger woonbuurt vir al die inwoners en hul besoekers te verseker.”





