Volgens Wayne Dyason, die Stad Kaapstad se woordvoerder oor wetstoepassing, is altesaam 13 mense sedert die uitsetting op Vrydag 6 September deur die Stad se skuiling ingeneem.FOTO: Nielen de Klerk


Die oop stuk grond naby die gholfklub langs Carl Cronje-rylaan, wat voorheen onwettig deur plakkers beset is, word daagliks gemonitor om te verhoed dat dié ruimte weer beset word.

Só bevestig Wayne Dyason, die Stad Kaapstad se woordvoerder oor wetstoepassing, en Jean Beukman, bestuurder van die Boston-gemeenskapsverbeteringsdistrik (Boston CID).

“Ons monitor Carl Cronje-rylaan elke dag om te verseker dat daar geen herbesetting deur plakkers plaasvind nie,” sê Beukman.

LEES | Die nuutste digitale weergawe van die TygerBurger hier

Presies waarheen die plakkers is, kan niemand met sekerheid sê nie.

“Ons weet ’n paar plakkers is in die Stad se skuiling in Bellville se sakekern ingeneem, en dan is daar ander wat in kleiner groepe na ander gebiede versprei het,” meen hy.

Volgens Dyason is altesaam 13 mense sedert die uitsetting op Vrydag 6 September (“Plakkers kry trekpas”, TygerBurger, 11 September) in die Stad se skuiling ingeneem.

“Die Voortrekkerwegkorridorverbe­teringsdistrik (VRCID) se veiligheidsbeamptes monitor die gebied en sal wetstoepassing in kennis stel indien iemand die eiendom probeer betree,” voeg Dyason by.

Intussen is ’n groepie plakkers in Oakdale opgemerk, maar hulle het weer aanbeweeg.

  • Indien enige onwettige besetting deur inwoners opgemerk word, vra die Stad dat sy openbare beheerkamer by 021 480 7700 in kennis gestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article