Reeds vroeg in 2019 het inwoners in die Sonnekuil-buurt aangrensend aan Soneike die intrek van plakkers by die kanaal oorkant die Netcare Kuilsrivier-hospitaal begin aanmeld.
Baie e-posse, frustrasies, misdade aan eie lyf of eiendom, versekeringseise, uitgawes en verwysingsnommers later is vele nou, om dit lig te stel, gatvol.
TygerBurger het gesels met Jacqueline Smit wat ’n dagsorg vanuit hul eiendom in Bosmanstraat bedryf en met John Nel van Specialised Security Service (SSS) wat in Soneike woon. SSS dryf ’n petisie onder inwoners aan die Stad Kaapstad om ’n oplossing vir die probleem te vind.
Smit sê hulle het al hul erf se muur laat hoër maak, maar daar kom twee, drie keer per week indringers op die werf. “Ons versekering dink ons pleeg bedrog. Ons eis helfte van die goed nie meer nie.”
Drie jaar terug het Smit en haar seun op ’n vrou in hul huis afgekom. Dit was nie die eerste keer dat sy deur misdaad geraak is nie en van daar het dinge net erger geraak, vertel sy. “Nou gebruik ek medikasie vir angstigheid.
“Hulle het al hoeveel keer hier probeer inbreek. Dis baie erg. Jy gaan kanaal toe en sien jou goed daar lê – dan sê die polisie ek mag nie die goed vat nie, want ek kan nie bewys dis myne nie. Moet ek my naam op alles skryf?”
Plakkers in die omgewing “naby die hospitaal” is al in Januarie 2019 onder die Stad se aandag gebring volgens e-pos van ’n inwoner wat TygerBurger gesien het.
Smit het in Desember 2019 aangemeld dat daar ses mense by die kanaal bly. “Toe raak dit nege en toe 12, en ons het gemeld dat hulle shacks opsit.“ Hoewel wetstoepassing se kantore daar naby is, het gehuggies verys en nou is die proses om mense te verwyder “amper onmoontlik”, sê Smit.
Die probleem is nie met haweloses as sodanig nie.
Inwoners voel onveilig. “Ek dink ons op die tipping point waar mense reg in eie hande wil neem,” sê Smit.
“Die mense by die kanaal is aggressief en arrogant – een het helder oordag by my ma se plek ingestap en die skootrekenaar gesteel.”
Smit en Nel is albei oortuig daar is ook bendes bedrywig. Waar daar eers heimlik dwelms verkoop is, gebeur dit al meer openlik, sê hulle. “Hier’s ’n ou wat kom en vir hulle die dwelms gee – hulle verkoop dit vir hom in die hoofstraat.”
Nel sê, “hier is van hulle wat werk vir die Dixie Boys – hulle scan die area al vir maande”. Een van SSS se kliënte het in die week voor daar ingebreek is ’n man op en af in die straat gesien loop. “Net voor sy dogter by die huis gekom het, is hulle by die deur uit.”
Smit se seun moes al aanskou hoe iemand reg voor hul eiendom se ingang op straat beroof word.
“Ons kan nie kom en gaan soos ons wil nie – ons is eintlik in huisarres.
Dit vat ’n mens se menslikheid weg – ek is iemand wat lief is vir mense, om uit te reik en met minderbevoorregte kinders te werk,” sê Smit.
Nel sê “die realiteit is ons kry geen hulp nie. Wetstoepassing en almal kom maak dalk skoon, dan gaan hulle weer. Ek verstaan daar is nie plek nie – skuilings is vol en straatmense wil nie by reëls hou nie.
“Ons moet reël om skoon te maak rondom hulle. Hulle gebruik die kanaal vir enigiets – die mense in die hospitaal sien als raak. Mense kan nie slaap nie, want honde blaf heel nag, want daar’s mense teen die Vibracrete muur. Jy kan nie vir hulle sê om te skuif nie, want ‘ek het meer regte as wat jy het’.”
Smit en Nel is van mening dat meeste van die kanaal-bewoners huise of familie het om na terug te keer. Nel sê daar is al messe (soms selfgemaak) by van die mense op straat in die nagtelike ure afgeneem.
“Hulle breek by karre in, steel sonkragligte, watermeters . . . Ons weet dit is hulle, want ’n paar is al toegesluit vir diefstal. Maar môre is hulle weer uit, dan’s dit back to square one.”
Nog ’n inwoner, Grant Rumble, sê vir inwoners lyk dit of daar geen bereidwilligheid is van die Stad Kaapstad om op te tree nie. “As gemeenskap het ons ’n petisie opgestel om die onwettige strukture te verwyder, maar ons benodig hulp van die Stad om weer veilig in ons eie buurt te kan voel. Ons kinders kan nie buite speel nie en ons vroue kan nie in die area draf nie omdat hulle bang is hulle word seergemaak.”
Rumble het in Junie aan stadsamptenare gemeld dat ’n brand by een van die skuilplekke uitgebreek het wat natuurlik bygedra het tot nabygeleë inwoners se kommer oor hul veiligheid. Hy sê strukture wat teen grensmure opgerig word is telkemale deur inwoners aangemeld, maar die enigste reaksie is dat die versoeke op die Stad se stelsel net weer toegemaak word.
“Ek het empatie met haweloses, maar dit kan nie kom ten koste van belastingbetalende inwoners nie. Die verantwoordelikheid is in die Stad Kaapstad se hande.”
Tydens die pandemie het dinge vererger. Weens die noodtoestand kon die Stad Kaapstad nie straatmense van openbare grond verwyder nie. Om ’n hofbevel in terme van die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Grondbesetting (Pie) te verkry blyk ook nie maklik gedaan as daar nie alternatiewe verblyf voorsien kan word nie (lees op bladsy 10 meer oor die onlangse hofuitspraak in die verband). Die Stad Kaapstad se Verordening op Strate, sit ook ’n proses uiteen alvorens ’n hofbevel ter sprake kom.
Smit voel meer kan gedoen word vir diegene op straat wat wel gehelp wil word, maar sê dis belangrik om te onderskei tussen waar ’n behoefte en wil is vir verandering en waar mense die leefstyl kies.
“Om R5 te gee by die robot sus net jou gewete, dit bring geen verandering teweeg. Gaan praat met daai kinders (wat by die robot bedel) – dit gaan als na ouers, vir dwelms.”
TygerBurger het kommentaar uit verskeie oorde aangevra en sal volgende week hieroor berig. As jy insette het of oplossings wil voorstel kontak die joernalis by die e-posadres boaan berig.





