Min mense het Dinsdag so breed geglimlag soos die jong “rugbykenner” van Stellenberg in Bellville toe hy ’n videoboodskap van Springbok Pieter-Steph du Toit ontvang het.
Markus du Plessis (4), wat spastiese serebrale verlamming het, glimlag van oor tot oor wanneer hy kyk hoe Pieter-Steph met hom praat.
’n Video van Markus het onlangs wyd opslae gemaak waar hy elke huidige Springbokspeler se naam kan noem as iemand die speler se nommer vir hom sê.
Hierdie keer smelt harte oor ’n nuwe video waarin ’n mens kan sien hoe gelukkig hy is wanneer Pieter-Steph met hom praat.
“Markus kan dalk nie loop nie… Maar vandag het hy gevlieg!” skryf sy ma, Sarisha, by die video.
“Ek wil net vir jou sê ek is baie beïndruk oor hoe jy die hele Springbokspan ken,” sê Pieter-Steph in die boodskap aan Markus. “Ek sien jy is ’n ongelooflike groot rugby-ondersteuner, veral vir die Springbokke. Dankie vir al jou ondersteuning, ons waardeer dit baie. Ons het gehoor hoe jy skree tot in Frankryk. Ons is bly ons kon vir jou en die hele Suid-Afrika trots maak.”
Sarisha vra dan vir Markus wie op die video is en hy antwoord: “Pieter-Steph du Toit.”
Nadat die video klaar is, sê hy “dankie Pieter,” gevolg deur groot gelag deur iemand in die agtergrond. “Is daar nog ene van Pieter?” vra hy dan.
Markus het as baba die eerste keer die nuus gehaal toe sy ouers geld ingesamel het vir ’n spesialisoperasie wat net in Amerika beskikbaar was.
Hulle het toe Shake & Bake Pancakes begin en hiermee honderde liters pannekoekdeeg verkoop om die geld in te samel.
Hulle kon meer as ’n miljoen rand insamel en Markus is in Amerika geopereer. Volgens Sarisha is sy spastisiteit sedert die operasie al baie beter, maar sy toestand bly permanent en hy kan steeds nie loop nie.





