Pierre Greeff tydens die Parkie Partytjie.FOTO: Kyle Wesson


Hoe kry jy die geld om ’n park te verfraai?

As jy in Welgemoed bly, nooi jy van die land se bekendste sangers en hou partytjie in die einste park.

Die Sluysken-parkie, oftewel die vliegtuigparkie soos dit onder die inwoners bekend is, het gewemel onder die mense toe daar onlangs ’n musiekkonsert in dié geliefde parkie aangebied is.

Die Heuwels Fantasties en Francois van Coke en ander musikante het inwoners vermaak en daar was ook ’n veiling om geld vir die opknap van die parkie in te samel.

Dit vorm deel van ’n park-verfraaingsprojek wat deur die Welgemoed-gemeenskapsverbeteringsdistrik (WCID) bestuur word.

Saamstaan

Dirkie van der Merwe, inwoner en produksiebestuurder van die Parkie Partytjie, sê dit was ’n reusevoorreg om die geleentheid te organiseer.

“Dit was opwindend om te sien hoe diensverskaffers en die gemeenskap opgewonde raak oor ’n ‘goeie nuus’-gebeurtenis. Ons hoop hierdie is die eerste van baie in baie gebiede in die stad.”

Hy sê hulle wou nie net geld insamel nie, maar ook hê dat inwoners met mekaar praat.

“In tye wanneer dit maklik is om verby mekaar te lewe, voel ons daar’s baie waarde daarin om jou bure te leer ken.”

Pierre Greeff, inwoner en lid van die Heuwels Fantasties, het die ander musikante en betrokkenes, soos Francois van Coke, Emerger, Werner van der Hoven en DHF, vir hul deelname bedank.

“Wat ’n voorreg om die park waarin ek as kind gespeel het saam met my musikantvriende te help opknap.”

Arndt Mittendorf, WCID se bestuurder, sê hierdie is ’n goeie voorbeeld van hoe inwoners bemagtig kan word om hul eie gemeenskap te verbeter.

“Die CID laat mense toe om groter eienaarskap te hê oor die ontwikkeling van openbare plekke soos Sluysken-park.”

Hy sê hulle gaan beslis aanhou met sulke projekte. Twee projekte is klaar vir later vanjaar beplan – een is ’n konsert deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes in September en die Welgemoed-Straatwinkel in November.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article