Die groep het by elke hoek gestop en gebid. Credit: Richard Roberts

‘n Gebedstaptog is verlede week in Stasieweg in Parow gehou.

Die geleentheid is deur die polisie, kerkleiers, gemeenskapsleiers, Radio Tygerberg 104FM en lede van plaaslike nie-regeringsorganisasies bygewoon. Die doelwit was om bewusmaking te skep rondom misdaad en wat die publiek kan doen om dit te voorkom. Pamflette met meer inligting oor buurtwagte, die gemeenskapspoliëringsforum en VRCID (Voortrekkerweg-korridorverbeteringsdistrik), sowel as Bybels, is aan die publiek uitgedeel.

Die groep het om 10:00 by ‘n punt byeengekom en tot by die Parow-treinstasie gestap. Daar is ook op elke hoek gebid soos die staptog gevorder het.

Kevin Williams, ‘n voormalige polisielid en kapelaan, het ‘n kort boodskap met die publiek voor die staptog gedeel.

“My boodskap was duidelik: moenie vrees nie,” het hy aan TygerBurger gesê.

Hy het die publiek bemoedig en hulle aangemoedig om te vertrou op die Here dat die situasie waarin die gebied tans is, kan verander.

Williams het ook genoem dat die kapelaanskap waarby hy betrokke is, voorts verder vennootskappe wil bou.

“Ons wil met die polisie en ander kapelaandienste ‘n verskil in ons gemeenskap maak,” het hy gesê.

Die lede van die Parow-polisie is (van links) AO Yulinda Pietersen, kol. Deidre Engelbrecht, konst. Thamsaqa Faye, AO Desiree Vergotine en Ethylene van der Berg, hoof-administratiewe klerk. Agter staan Zama Nobetsiki, ‘n administratiewe klerk.

Kol. Deirdre Engelbrecht, stasiebevelvoerder, het die dag opgesom.

“Ek dink die betrokkenheid van die polisie met die gemeenskap en leiers, om saam te kom en vir die gemeenskap te wys ons staan saam; dis waaroor vandag se gebeure gegaan het – om te wys ons beveg misdaad saam,” het sy gesê.

Sy voeg by: “Ek dink die samewerking met die eksterne rolspelers is baie goed. Ons werk gereeld saam met die VRCID, die Stad Kaapstad se wetstoepassingseenheid, metropolisie en verkeersdienste, sowel as nie-regeringsorganisasies. En as dit nie vir die eksterne rolspelers was wat ons ondersteun nie, sou ons nie kon doen wat ons doen nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article