'n Oudleerder van die Laerskool Gene Louw bewys dat entrepreneurskap met die regte ondersteuning tot nasionale erkenning kan lei. Op die foto is Wedrich en sy pa, Jacques.
‘n Oudleerder van die Laerskool Gene Louw bewys dat entrepreneurskap met die regte ondersteuning tot nasionale erkenning kan lei. Op die foto is Wedrich en sy pa, Jacques.

Wedrich Wessels (21) het nooit gedroom sy liefde vir biltong sou van hom, ‘n voormalige Eversdal-seun, die eienaar van ‘n nasionale voedselhandelsmerk maak nie.

Maar met sy pa, Jacques, se onwrikbare ondersteuning het dié oudleerder van die Laerskool Gene Louw presies dit reggekry.

Vandag is Vokkies, die biltong-maatskappy wat in die Wessels-gesin se Eversdal-huis begin het, ‘n gevestigde naam oor Suid-Afrika heen.

Hul unieke “geelvet-makoeloes” en kenmerkende “Vokkies my Blahhh”-slagspreuk het ‘n kultuurverskynsel geword.

Jacques, wat nou in Gordonsbaai woon, was reeds as skoolseun ‘n entrepreneur.

Met die bynaam “Dwergie” het hy tydens sy koshuisdae speelgoed verkoop en sportfotografie gedoen. Jacques was altyd besig met een of ander skema.

Hy het daardie entrepreneursgees aan Wedrich oorgedra.

Van krieket tot biltong

Tydens die Covid-pandemie in 2020, toe Wedrich se krieket-aspirasies onderbreek is, het pa en seun saam die aanlyn platform Handevat gestig om mense hul tuisgemaakte produkte te help verkoop.

Ná sy skoolloopbaan het Wedrich ‘n gewaagde besluit geneem – geen universiteit nie, maar voltyds fokus op entrepreneurskap.

Jacques het gesien Wedrich het besonderse ywer en sy werk as pa was om daardie ywer te ondersteun.

Die idee vir Vokkies het tydens ‘n pa-en-seun-toer ná Wedrich se matriek in die Karoo ontstaan.

Aanvanklik was die plan om speserye te ontwikkel, maar dit het gou na biltong verander.

Jacques, ‘n oud-Bloemfonteiner in hart en siel, ken geelvet-biltong. Hulle het daardie tradisionele resep geneem en dit met hul eie weergawe opgekikker.

Gemeenskapsondersteuning

Die gemeenskap van die noordelike voorstede het ‘n sleutelrol in Vokkies se sukses gespeel.

Van vriende wat die eerste bestellings geplaas het tot plaaslike winkels wat hul produkte verkoop het.

Hierdie duo wil ander ouers inspireer om in hul kinders se drome te glo, al lyk dit ook onkonvensioneel.

Vokkies bied vandag ‘n volledige produkspektrum wat landwyd verkoop word. Hul unieke bemarkingsbenadering en humoristiese produkname het ‘n lojale aanhang geskep.

Hulle wil jong mense wys dat jy nie ‘n fancy agtergrond nodig het om suksesvol te wees nie.

Vir hulle gaan dit oor harde werk, kreatiwiteit, en die regte ondersteuning.

Vir Jacques is die grootste beloning nie net finansiële sukses nie, maar die bewys dat ‘n pa se geloof in sy kind se drome werklik ‘n verskil kan maak.

Jacques glo elke kind het ‘n talent. “Die werk as ouers is om daardie talent raak te sien en groot te maak — maak nie saak hoe groot die droom lyk nie,” sê hy.

Jacques se boodskap aan ander ouers is eenvoudig, dat jy jou kind se drome moet ondersteun, al verstaan jy dit nie altyd nie.

“Jy weet nooit waarheen dit kan lei nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article