Die ouma van ‘n driejarige seun wat verlede jaar November na bewering deur ‘n dronk wetstoepassingsbeampte doodgery is, sê die verdagte lewe asof niks gebeur het nie.
Speel op sypaadjie
Khy’ree Jordaan is op 9 November verlede jaar in Clarke Estate doodgery terwyl hy met vriende op die sypaadjie gespeel het. Volgens sy ouma, Jolene Jordaan, was die beampte van diens af en dronk toe hy haar kleinkind doodgery en van die toneel gevlug het.
Vandag, byna ses maande later, is niemand nog aangekla nie en, volgens die ouma, loop en spog die verdagte dat hy nie sal tronk toe gaan nie. “Hy is ‘n dwelmgebruiker wat steeds dieselfde handelaar hier naby besoek. Hier is ook ‘n kuierplek waar hy gereeld uithang en spog dat niks met hom sal gebeur nie,” sê Jordaan.
Volgens Jordaan is sy steeds kwaad en sal sy nie rus voor die verdagte skuldig bevind en gestraf word nie. “Hy werk steeds, al is hy nie op die pad. Ek was nou al oral rondgestuur, sonder enige sukses. Ek was al by die speurders en het al e-posse na verskillende mense en organisasies geskryf, maar niemand kan my help nie,” sê sy.
Maak geraas
Niks sal haar egter keer in haar geveg om geregtigheid nie. “Ek sal aanhou geraas maak tot iemand my hoor. Op elke moontlike nuusplatform of sosiale media sal ek praat tot daardie man verantwoording doen vir sy dade,” sê sy.
Die polisie se sers. Wesley Twigg het by navraag gesê die saak is nou voor die hof en het navrae daarheen verwys.
TygerBurger het uitgeruik na Wayne Dayason, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se wetstoepassers. Teen druktyd het hy nog nie gereageer nie, maar luidens beriggewing in ander media het hy glo gesê die verdagte is na ‘n “nie-operasionele” rol verskuif.
Die nasionale vervolgingsgesag se Eric Ntabazalila het ook nog nie op navrae gereageer nie.
Al die kommentare sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.
READ ALSO: Elsies-ouma stort hart uit op Facebook ná ‘dronk bestuurder’ 3-jarige doodry





