Leonora Gouws met van haar kaartjies.FOTO: NIELEN DE KLERK


Sy het nooit verwag dat sy R100 000 vir die Tygerberg Hospice sou insamel nie.

Nóg minder dat dit 23 jaar se harde werk sou beteken nie, vertel Leonora Gouws (82) van Edgemead.

Wat nog meer verbasend is, is dat sy dit gedoen het deur kaartjies te maak en dit teen slegs tussen R1 en R5 te verkoop.

“Ek is glad nie kunstig nie,” sê Gouws beslis.

“En ek’s nie ’n smous nie.”

Waaraan sy egter geen tekort het nie, is uithouvermoë en kreatiewe denke.

Gouws, ’n ouma van ses, sê sy onthou nog duidelik die eerste keer dat sy van ’n hospies gehoor het.

Dit was dekades gelede en iemand het oor die radio daaroor gepraat. Sy was dadelik geboei omdat sy juis ’n sagte plekkie vir mense in hospitale het.

Vroeër jare het sy mense dikwels in die hospitaal besoek, waar sy hulle bemoedig, gesels en verse uit die Bybel voorgelees het.

Sy het ’n kursus of twee by die hospies in Stellenbosch gevolg, maar vas geglo dat dit die enigste een buiten die een in die suidelike voorstede was.

Toe sy eendag egter haar terminale buurvrou by haar huis wou gaan groet, het ’n versorger van die hospies in Bellville haar by die deur verwelkom.

Sy wou dadelik die hospies help. Dit was in 1999 en sy is reguit na hul kantore toe waar sy gesê het sy wil geld insamel.

Die persoon wat destyds daar gewerk het, het haar gehelp en hul toestemming op ’n briefhoof gegee.

Gouws is toe die strate in.

“Ek het so bietjies, bietjies geld gekry.”

Maar toe sy, “wat glad nie ’n smous is nie”, besef het sy gaan nie veel geld maak nie, wou sy gou ’n ander plan maak.

Sy het besluit op kaartjies. Omdat sy nie self kan teken nie, het sy besluit om al haar kennisse te vra vir hul ou Kersfeeskaartjies, waarna sy sorgvuldig die voorkant afgeknip en dit geplak het op ’n ander skoon kaartjie wat sy laat druk het.

Binne-in, aan die regterkant, het sy ’n Bybelvers wat die Kerstyd vier, laat druk. Agterop was die hospies se logo.

Sy het destyds 500 kaartjies in Engels en 500 in Afrikaans laat druk met die geld wat sy tot op daardie punt drupsgewys ingesamel het.

“Daar was omtrent tot op die sent net genoeg geld (om die kaartjies te laat druk).”

Die kaartjies moes sommer vinnig aangepas word. Sy het nie meer net Kerskaartjies verkoop nie, maar ook kaartjies vir ander geleenthede. Dit het ook later ’n koevert ingesluit en later ook ’n plastiek omhulsel.

In ’n stadium het sy en ’n vriendin die kaartjies se plastiekomomhulsels selfs met gom vasgeplak, voordat dit ook aangepas is. 

Gouws het die geld gereeld in ’n spesiale rekening geplaas en heimlik begin glo sy sal dalk ’n groot bedrag – soos R100 000 – kan bereik.

Sy moes ook mooi boekhou sodat haar uitgawes nooit haar inkomste oorskry nie. 

Die kaartjies het al hoe meer byval gevind en die woord het vinnig versprei. Die NG kerk Monte Vista het dit begin verkoop en ook tehuise soos Jubileum (in Tygerdal), La Provence (in Welgelegen) en Fontaine Bleau (in Welgelegen). 

Om by te hou by die vraag het sy eenkeer ’n aankondiging in ’n plaaslike advertensieblad geplaas, wat vra vir mense se gebruikte kaartjies. 

Dié het ingestroom en sy moes nooit weer vra nie.

Sy het etlike jare die kaartjies teen R1 elk verkoop. 

“En toe dwing die mense my om dit R2 te maak en toe met ’n swaar hart maak ek dit R3.” Die kaartjies kos nou slegs R10 vir drie, sê sy.

Sy het selfs haar dienste uitgebrei en ook 1 000 verjaarsdagalmanakke verkoop teen R30 elk, waarvan net twee oor is. 

Sy het aande om gesit en die kaartjies als met die hand uitgeknip – pynlik netjies. 

As haar man, Pieter (75), ’n afgetrede meester van die hooggeregshof, vra hoekom sy nie ontspan nie, dan antwoord sy altyd: “Dit is mos my ontspanning.”

Daar was ook ander hoogtepunte.

“Die grootste lekkerte was om die ander mense te ontmoet,” sê sy.

Mettertyd het die kaartjies egter al minder verkoop, soos mense minder van die posdiens en gedrukte media gebruik maak.

Haar kaartjies word meestal in aftreeoorde gekoop omdat grootouers dit kan gebruik om kleingeld vir hul kleinkinders te gee, sê sy. 

“Ek het dit vreeslik geniet.”

Sy sê sy kon dit nie alleen gedoen het nie – sy is baie gehelp deur die NG kerk Monte Vista, die aftreeoorde en ook deur haar vriendin Alet Colyn van die Goodwood VLV, wat ’n topverkoper was.

Connie Zulch, hoof van palliatiewe sorg by die Tygerberg Hospice, sê hulle is verbyster deur die gebaar.

“Wat ’n wonderbaarlike storie in hierdie tyd waarin almal se finansies knyp en baie nie-regeringsorganisasies baie swaar kry.

“Donasies het skerp afgeneem. ’n Groot dankie vir hierdie wonderbaarlike skenking,” sê Zulch.

Sy sê die hospies versorg ernstig siek mense in die noordelike voorstede. 

“Die fokus is op pynbeheer en die verligting van simptome om ’n gehaltelewe vir die pasiënt en sy/haar gesin te verseker.

“Ons help ook die bedroefde familie met die rouproses nadat die persoon afgesterf het,” sê sy. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article