Juhninio van der Westhuizen (26) is glo deur ’n matriekleerder van die Hoërskool Blackheath doodgesteek. Hy was die opsigter.

Credit: SYSTEM

Die broer van die opsigter wat verlede week by die Hoërskool Blackheath deur ’n matriekleerder doodgesteek is, sê die familie sukkel nog om sy dood te verwerk.

Juhninio van der Westhuizen (26) het op die skoolgronde aan sy wonde beswyk nadat hy en die verdagte glo in ’n argument was en hy gesteek is.

Juhninio van der Westhuizen (26) is glo deur ’n matriekleerder van die Hoërskool Blackheath doodgesteek. Hy was die opsigter.

Aldwin Louw, broer van die oorledene, sê die familie is hartseer en geskok.

“My pa, wat ’n groot Christen is, het die verdagte vergewe, maar ek het persoonlik nog nie daai punt bereik nie,” sê Louw.

“My broer het glo aan die verdagte gevra wat hy nog op die skoolterrein doen aangesien hy reeds klaar eksamen geskryf het, waarna ’n argument uitgebreek het.

“Die lykskouing het gewys dat my broer agt keer gesteek is.

“Wat kan so erg wees dat jy iemand soveel keer steek?” wou ’n omgekrapte Louw weet.

Louw sê daar is vrae oor hoe die verdagte binne een dag ná die moord in die Oos-Kaap kon kom, waar hy uiteindelik in hegtenis geneem is. “Wie het hom gehelp om daar te kom? Daar is nog meer sout in ons wonde gevryf toe ek uitvind die verdagte is op borgtog van slegs R500 uit is,” sê hy.

Volgens Louw vind die oorledene se sesjarige seuntjie dit veral moeilik om sy pa se dood te verwerk. “Hy verstaan nie wat aangaan nie. Die ander dag wou hy nie skool toe gaan nie, want gewoonlik het sy pa hom skool toe geneem. Ons almal sukkel maar,” sê hy.

Hy het die polisie bedank dat hulle die verdagte so vinnig in hegtenis geneem het.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het by monde van sy woordvoerder, Bronagh Hammond, gesê die departement is bewus van die voorval. “’n Graad 12-leerder het die algemene assistent ná ’n argument doodgesteek. Die assistent het op die toneel aan sy wonde beswyk. Die leerder het van die toneel weggehardloop. Ons is ingelig dat hy in hegtenis geneem is,” sê Hammond.

Volgens Hammond het hulle berading aan die skoolgemeenskap gebied. “Dit is ’n tragiese voorval met die verlies van een man se lewe en die verwoesting van ’n jong man s’n. Die leerder is in sy laaste weke van sy skoolloopbaan. Die opsie dat hy steeds eindeksamen kan skryf kan oorweeg word,” sê sy.

Die Wes-Kaaspse onderwysminister, David Maynier, het sy medelye met die oorledene se familie en vriende, asook sy kollegas uitgespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article