Video op TikTok re madubula, Jeyes FluidFOTO:

Credit: cr

Al het sy voorheen van gevalle gehoor, was dit ontstellend toe sy onlangs self ’n vrou moes bystaan wat blykbaar melk gemeng met Jeyes Fluid gegee is om te drink, sê Leanne Stellenberg, ’n vrywillige misdaadslagofferberader wat onder meer in die Kalkfontein-gemeenskap werksaam is.

Stellenberg vertel die vrou het gesukkel met pyn en depressie nadat sy ’n miskraam gehad het.

“Sy het vir dae nie lekker gevoel nie. Ek weet nie presies hoe dit gebeur het nie, maar ’n vrou (uit die gemeenskap) het na hulle huis gekom en gesê, sy’s ‘kwaad gedoen’ (getoor) – sy moes die mengsel drink om haar skoon te maak.”

Die vrou is ’n 500ml-botteltjie met melk en ’n onbekende hoeveelheid Jeyes Fluid daarin gegee om te drink, sê Stellenberg – “om die ‘onreinheid’ uit haar liggaam uit te kry’’.

Stellenberg wat die vrou na die dokter vergesel het, sê dit gaan geruime tyd duur voordat sy herstel. “Sy kan net nie regkom nie. Die Jeyes Fluid het haar keel erg gebrand – dit is swart hier by haar keel.”

“Ek weet dit gebeur baie in Kalkfontein dat die mense Jeyes Fluid drink. Ek het voorheen ook gehoor hulle praat van ‘madubula-water’. Mense moet gewaarsku word; ’n mens mag dit nie inkry nie, onder geen omstandighede nie,” sê sy.

Bytend

Jeyes Fluid (oorspronklik van Engeland) word bemark as ’n buitenshuise skoonmaak- en ontsmettingsmiddel.

Madubula, ’n plaaslike handelsmerk, is ’n huishoudelike ontsmettingsmiddel.

Hoewel beide middels se verpakking aandui dat dit slegs vir eksterne gebruik bedoel is, word dit skynbaar algemeen gebruik vir sekere tradisionele “reinigingsrituele” – om in te bad meestal.

’n Aanlyn soektog het ’n paar verwysings gevind van Madubula wat met melk gemeng en gedrink word vir maagprobleme.

In een van vele video’s oor die gebruike op die sosiale mediaplatform TikTok pleit ’n Zoeloe-vrou wat haarself as “spirituele geneser” beskryf, en meer as 83 000 volgelinge het, vir die “normalisering van bad met Madubula, Jeyes Fluid (shibhoshi) en seesout”.

Jeyes Fluid en Madubula bevat organiese verbindings bekend as fenole (phenols in Engels).

Volgens inligting van die Tygerberg-gifinligtingsentrum is fenole bytend (corrosive).

Produkte wat lae konsentrasies fenole bevat, behoort nie chemiese brandwonde of sistemiese vergifting te veroorsaak nie, maar selfs verdunde oplossings van 1% kan die vel brand met verlengde blootstelling.

Die inname van fenole kan irritasie van die spysverteringstelsel veroorsaak met naarheid, braking, maagpyn en diarree, wat bloederig kan wees.

Gekonsentreerde oplossings kan brandwonde en vernouing van die slukderm veroorsaak. Die stembande kan ook uitswel.

Sistemiese vergiftiging weens akute blootstelling veroorsaak oorstimulasie van die sentrale senuweestelsel met opgewondenheid en verwarring, wat na ’n kort tydperk oorgaan in depressie, koma, lae liggaamstemperatuur en vlak asemhaling. Bleekheid, sweet en skok kan ook voorkom.

Stuipe (konvulsies) kan ook voorkom (dikwels vertraag).

Fenole is kardiotoksies, wat beteken dit tas die hart aan deur lae bloeddruk, ’n verhoogde polsslag en ’n ongereelde hartklop te veroorsaak.

Suur kan in die liggaam opbou en lewer- en nierskade kan soms voorkom.

Swartgekleurde urine kan voorkom met akute vergiftiging.

Chroniese blootstelling lei tot diarree, seerkeel, sere en donker urine.

Kontak met die vel veroorsaak velontsteking (dermatitus) en selfs brandwonde.

Die inaseming van die dampe kan ook die boonste lugweg irriteer.

Moets en moenies

Die gifinligtingshulplyn van die Wes-Kaap (wat data van beide die Rooi Kruis-kinderhospitaal en Tygerberg-gifinligtingsentrum insluit) het oor die laaste 12 maande 11 322 oproepe hanteer – 140 gevalle is verbind met fenole, waarvan 38 gevalle van kinders onder 5 jaar wat dit per ongeluk ingekry het.

Kontak die gifinligtingshulplyn by 086 155 5777 vir raad met vermoedelike inname of kontak met ’n gifstof.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article