Twee onderwysers uit TygerBurger se verspreidingsgebied het Vrydagaand toekennings by die Wes-Kaapse provinsiale onderwystoekenningsgeleentheid ontvang.
Die toekennings is vanjaar vir die 23ste keer aangebied.
David Maynier, Wes-Kaapse onderwysminister, sê in ’n verklaring die toekennings bied die geleentheid om die wonderlike werk te vier wat onderwysers in openbare skole doen. “Dié onderwysers jaag uitnemendheid na en hul passie om leerders se uitkomste te verbeter, is duidelik vir almal om te sien,” sê Maynier.
Natasha Smith van die Hoërskool Apex in Eersterivier het die toekenning vir uitnemendheid in hoërskoolonderwys ontvang, terwyl Dillon Henwood van die Laerskool Elnor in Elsiesrivier die toekenning vir uitnemendheid in laerskoolonderwys ontvang het.
In die motivering vir die toekennings word Henwood as ’n jong, vindingryke onderwyser beskryf.
“Die skool is in ’n verarmde gedeelte van die Kaapse Vlakte, maar Henwood delf diep in elke kind se wêreld en doen meer as wat van hom verwag word om gehalte-onderwys te verseker. Hy het ook ’n voedingsprogram van stapel gestuur wat meer as 400 leerders en gemeenskapslede voed. Hy stel ’n goeie voorbeeld en toon ’n egte liefde vir sy leerders en die gemeenskap,” lui die motivering.
In die motivering vir Smith word genoem dat sy ’n hoë premie daarop plaas dat leerders se vaardighede en kennis ontwikkel.
“Sy soek daagliks nuwe geleenthede wat ’n impak op die leerders se vordering het. In die onderwys staan sy uit as ’n voorbeeld van iemand wat deeglik beplan en haar werk strategies uitvoer. Wat noemenswaardig is, is haar onderwysmetodes wat sy verbeter deur die gebruik van inligtingstegnologie. Sy is nie net ’n onderwyser nie, maar die beliggaming van uitnemendheid in onderwys,” lui die motivering.
Renate van der Westhuizen, Apex se skoolhoof, sê hulle bars van trots.
“Smith is een van ons eerste onderwysers en sy is verbind tot uitnemendheid en om gehalte opvoeding te lewer. Dié toekenning is erkenning van haar toegewydheid. Sy inspireer die leerders om hul volle potensiaal te bereik,” sê sy.




