Oefengroep laat nie reën en wind hulle uit die swembad hou nie

tannies swem lekker
Al sluip die winterkoue nader is Jacobus Michaels en sy oefengroep steeds besig met hul wateroefeninge.

‘n Ou windjie hier en ‘n reëntjie daar gaan nie bejaardes wat by die Blue Downs-swembad oefen van stryk bring nie.

Wil nie rus nie

Gewoonlik maak hierdie groep, onder leiding van Jacobus Michaels, vroeg in die herfs klaar met hul aktiwiteite en begin dan weer in die lente. Nie vanjaar nie. “Die lede wil nie klaar maak nie. Hulle wil aktief bly, so wie is ek om teen hul besluit te gaan. Ons is ‘n baie aktiewe groep wat nie wil rus nie,” sê Michaels trots.

Volgens Michaels probeer hy hierdie tyd van die jaar net ligte oefeninge op die Blue Downs-stadion met die groep doen, maar hulle dring steeds daarop aan om in die swembad te gaan. “Die lede geniet die water baie en diegene wat nog leer swem is baie ywerig. Hoe ouer ‘n mens word hoe meer wil jy eintlik binnenshuis bly as dit begin koud word, maar my groep weet dat ‘n mens die spiere moet warm en soepel hou. Hulle ken nie van rus nie,” sê Michaels.

Nuwe vriende

Hy het reeds die groep begin om ouer mense wat net tuis sit ‘n bietjie uit te bring. “Ons mense sit net en dan begin die mediese toestande kom. Hier by ons kan jy fiks word en nog nuwe vriende maak. Ons lag ook lekker saam, wat ook goed is vir die siel,” sê hy.

Hy nooi mense om by hulle te kom aansluit. “Kom oefen saam met ons en ek belowe jy sal nie net fiks word nie, maar elke dag ‘n bietjie pret het.”

Stuur vir Michaels ‘n WhatsApp op 083 417 7995 indien jy wil aansluit.

LEES OOK: Bejaardes swem en oefen al te lekker saam

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article