Brandweerbeamptes buitekant die huis in Edgemead Woensdagmiddag nadat ‘n brand daar uitgebreek het.

Nooddienste is Woensdag 23 Julie na Farmersfieldweg in Edgemead ontplooi nadat ‘n huis in die gebied glo aan die brand geslaan het.

Die privaat-sekerheidsmaatskappy, District Watch, was een van die dienste wat op die noodoproep gereageer het nadat hul kontrolebeheerkamer om 14:41 van ‘n ontploffing in die omgewing in kennis gestel is.

Luidens ‘n inskrywing op sosiale media is hul gewapende reaksiespan onmiddellik uit na die toneel.

Andries Mouton, bestuurder van die gewapende reaksiespan, het hul beampte Mark Marais se verslag oor die voorval met TygerBurger gedeel.

Daarin word verduidelik hoe hy ‘n swart rookwolk opgemerk het terwyl hy onderweg na die toneel was.

Marais het ook gehelp dat die Stad Kaapstad se brandweerdiens maklike toegang tot die brand kon kry. Twee brandweerwaens het opgedaag en die vlamme suksesvol geblus.

Ander rolspelers in die privaatsekerheidsbedryf, plaaslike buurtwaglede en die verkeersowerhede het ook by die toneel opgedaag.

Mediese werkers het die inwoners van die huis ondersoek en een pasiënt, glo ‘n bejaarde vrou, is vir rookinaseming behandel, volgens Marais se verslag.

Die oorsaak van die brand is onbekend.

Twee brandweer-beamptes besig om die brand te blus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article