Sers. Charles Neelse is die nuut aangestelde kommunikasiebeampte by Bellville-polisiekantoor.
Sers. Charles Neelse is die nuut aangestelde kommunikasiebeampte by Bellville-polisiekantoor.

Nog onlangs het hy misdadigers op straat vasgevat en nou wil hy ‘n groter verskil maak aan die verhouding tussen die gemeenskap en die polisie.

Dit is die doelwit van die nuut aangestelde sers. Charles Neelse by die Bellville-polisiekantoor as die nuwe kommunikasiebeampte.

Sers. Charles Neelse, wat 19 jaar in sigbare polisiëring (Vispol) diens gedoen het met misdaadbestryding, het onlangs die pos as kommunikasiebeampte aanvaar. Sy uitgebreide ervaring in straatmisdaadbestryding gee hom ‘n unieke perspektief op die uitdagings wat die gemeenskap in die gesig staar.

Neelse is reg om die gemeenskap te dien.

Openbare beeld

Volgens Neelse is hy nou verantwoordelik vir die kantoor se openbare beeld en dien hy as die belangrike skakel tussen die gemeenskap en die polisie.

“My pligte sluit in om misdaadvoorkomingsinligting te versprei, medianavrae te hanteer en vertroue op te bou deur aktiewe gemeenskapsbetrokkenheid,” verduidelik hy.

Die pos was vir ‘n geruime tyd vakant, wat daartoe gelei het dat die publiek dikwels nie ingelig is oor die polisie se suksesse en prestasies nie. Hierdie kommunikasiegaping het vertroue tussen die polisie en die gemeenskap ernstig geraak en misdaadbekamping belemmer, sê Neelse.

Gemeenskapsbetrokkenheid

Neelse beplan om gereelde inligtingsessies te hou om vertroue en samewerking te verbeter.

Hy wil ook verskeie programme soos jeugmentorskap, omvattende skoolveiligheidsprojekte en gemeenskapsgebaseerde intervensieprogramme implementeer. “Ek wil direkte en betekenisvolle betrokkenheid by skole, kerke en gemeenskapsforums in die hele Bellville-gebied verhoog,” sê Neelse.

Sers. Charles Neelse

Die kommunikasiebeampte beplan om moderne digitale kanale strategies te gebruik om veral jonger mense te bereik en sosialemedia-platforms optimaal te benut.

Hy sal ook bestaande polisiekanale soos gemeenskapolisiëringforums, plaaslike koerante, SMS-waarskuwings en moderne veiligheidstoepassings gebruik.

Suksesverhale, praktiese misdaadvoorkomingswenke, belangrike buurtwaginligting en noodkontakbesonderhede sal in eenvoudige, toeganklike taal gedeel word om alle gemeenskapslede te bereik.

Kommunikeer

“Ons wil gereeld en openlik met die gemeenskap kommunikeer, suksesse aktief bekend maak en praktiese, bruikbare voorkomingswenke deel,” verduidelik hy.

Die grootste kommunikasie-uitdaging wat hy identifiseer, is om die verlore vertroue te herstel en die gemeenskap weer aktief en betekenisvol by polisiewerk te betrek.

Boodskap van samewerking

Sy duidelike boodskap aan die Bellville-gemeenskap is: “Saam kan ons definitief ‘n verskil maak.”

Hy vra die publiek om as die polisie se oë en ore op te tree, misdaadinisiatiewe aktief te ondersteun en hom te kontak oor slagofferondersteuning of verwante gemeenskapsprojekte.

  • Bel Neelse by die Bellville-polisiekantoor by 021 918 3001 of die Bellville-kliëntedienssentrum by 021 918 3118.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article