Die bedding en welkombord, geskenk deur Kuils River Estates, op die hoek van Amandelweg en Koringblomstraat.

Credit: SYSTEM

Lizette Wilson droom van ’n mooi dorp waarop sy en al Kuilsrivier se inwoners trots kan wees.

Die voormalige musiekonderwyseres blyk ’n bedrewe tuin-komponis te wees te oordeel aan die openbare beddings wat al onder haar leiding vorm aangeneem het.

In die laaste jaar of wat werk sy “tannie op my eie”, onder die vaandel van “Kuils River, Our Beautiful Town/Ons Mooi Dorp”, sê Wilson.

“As ek iets alleen doen, dan weet ek wat ek wil doen en hoe ek dit gaan doen.”

Een maal per week, gewoonlik op ’n Woensdag, sal jy Wilson en ’n paar gereelde werkers wat ’n dagloon betaal word, êrens langs ’n pad of straat sien waar ’n tuintjie geskep, of aan reeds gevestigde beddings aandag gegee word.

Sy is trots op wat sy en haar helpers sedert Junie verlede jaar kon vermag.

Dit sluit ’n pragtige bedding op die hoek van Amandelweg en Koringblomstraat rondom die welkom-bord wat deur Kuils River Estate geskenk is in.

Dit sluit ook twee beddings by Confettibushstraat; die Bucksingel-sirkel naby Zevenwacht-winkelsentrum wat omskep is; en beddings langs Bottelaryweg naby die Soneike-sentrum, in.

Wilson sê van die beddings wat vroeër langs Amandelweg aangeplant is (deur vorige inisiatiewe waarby sy ook betrokke was) het nie almal die padwerke oorleef nie. Sy kon wel van die plantjies red en dit is langs Bottelaryweg oorgeplant. “Ons het ook nog plantjies wat tydelik by die ‘blouhuis’ (in Kerkstraat) uitgeplant is.”

Die omskepping van Buck-sirkel was ’n groot uitdaging wat haar ’n paar duisend rand uit eie sak gekos het, vertel Wilson.

Voor hulle in Februarie daar begin het was die stuk grond in die middel van die sirkel met spekboom oorgroei wat ’n groot taak was om te verwyder. Wilson sê dit was ’n seeroog vol rommel wat as toilet en slaapplek gebruik is en onveilig was om verby te stap.

“Dit het lank geneem om die grond skoon te maak voor ons kon begin plant. Die sirkel is nou die omliggende gemeenskap se verantwoordelikheid,” sê sy.

Om mense uit die gemeenskap betrokke te kry bly maar ’n stryd, gee sy toe. “Hierdie projek maak slegs staat op donasies uit die gemeenskap van Kuilsrivier.”

Sy let wel op dat daar nog mense is wat moeite doen. “Daar is ’n paar plekke waar mense nog beddings gemaak het.”

Binnekort, op Saterdag 16 September gaan ’n groep leerders van die Laerskool Mikro kom hand bysit by een van die tuintjies.

Vir eers word geen bykomende beddings beplan nie, want om plantjies nat te maak in die somer is ’n reusetaak, vertel Wilson. Inwoners, naby die tuintjies wat watertenke het kan hier help om kanne vol water te maak.

Kom help mooimaak

Die volgende projek van ‘Kuils River, Our Beautiful Town/Ons Mooi Dorp’ is om ’n paar blom- en vetplantbeddings by die ingang van die Hoërskool De Kuilen te maak.

Wilson het ’n spesiale plek vir die skool in haar hart aangesien sy van 1989 tot 2003 daar skoolgehou het.

“Ons gaan kleinerige beddings maak tussen die wit paaltjies by die ingang van die skool.” Alle oud- en huidige leerders, ouers en onderwysers, word genooi om te kom help mooimaak op Saterdag 7 Oktober.

Skenkings van vetplante of ander geharde plante wat met min water kan klaarkom asook groot klippe en klein klippies, word ook benodig, maar veral hande om te kom help, benadruk Wilson.

JC West Gardens het reeds onderneem om twee bakkievragte kompos te skenk.

“Dit gaan ’n heerlike geleentheid wees om bande te bou en om ons dorp se inwoners bymekaar te bring met dieselfde doel: Om “Ons mooi dorp” super-mooi te maak,” sê Wilson.

Kontak Lizette Wilson via WhatsApp by 083 284 6959 as jy ’n bydrae wil maak. Vind ‘Kuils River, Our Beautiful Town/Ons Mooi Dorp’ op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article