Lizelle op haar troudag saam met haar ma, Annemarie.


Op die ouderdom van 62 jaar sal Annemarie Smith vir die tweede keer aan haar dogter, Lizelle, lewe skenk, wanneer een van haar niere in haar oorgeplant word. Die lewensreddende nieroorplanting vind op 21 Januarie in die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad plaas.

Tipe 1-diabetes is op 11 jaar by Lizelle van Wyk van Vredekloof, getroud en ma van ’n 10-jarige dogter, gediagnoseer. Sedertdien leef sy met verskeie komplikasies soos gloukoom wat haar met net 15% sig gelaat het, neuropatie, ’n geamputeerde been (onder die knie) en regtergroottoon, sowel as vier frakture in al die orige tone. En toe, in die middel van 2022 kom die skoknuus – vlak 4-nierversaking.

“Ek het eendag net begin opswel, my bene arms en gesig. Ek is ongelukkig baie laat gediagnoseer. Dokters het altyd gesê my nier- telling lyk nie goed nie en ek moet versigtig wees. Daai vrese het op dié dag waar geword.”

Bloedtoetse het getoon dat Lizelle nog ’n klein mate van nierfunksie oor het, en haar niere is deurentyd met bloedtoetse gemonitor.

Maar teen Oktober 2022 was dié vlakke so laag dat sy dadelik met dialisebehandelings moes begin om haar bloed te filtreer – twee keer per week vir drie ure. Sy is tans heeltemal afhanklik van die behandelings.

Vir dié proses moet dokters ’n fistula in die arm maak om vaskulêre toegang tussen die are en die kunsmatige nier te bied om sodoende die bloed in die liggaam van gifstowwe te suiwer.

“Die dialise maak my bitterlik moeg en soms baie siek. Ná so ’n sessie beteken die res van die dag niks. Ek kan niks op daai dae doen nie. Ek het nie die krag om te loop nie, of om enigiets saam met my 10-jarige dogter te doen nie. Ek kan ook nie bestuur nie en is afhanklik van my ma om my oral heen te ry, omdat my man eers saans ná sewe tuis is.”

oorplanting

In Mei verlede jaar het Lizelle by haar siekefonds aansoek gedoen om ’n nieroorplanting. Beide haar man en ma is getoets as moontlike skenkers. Ma Annemarie se weefsel en bloed was versoenbaar met Lizelle s’n en Annemarie se nierfunksievlakke is op 62 nog goed genoeg om met net een nier oor die weg te kom.

Ná eindelose konsultasies met dokters en die koördineerders is die oorplanting finaal in Oktober vanjaar goedgekeur en ’n datum is vasgestel.

Vir Lizelle was die proses ’n beproewing, maar ook ’n uitkoms.

“Ek is bang, maar ook baie hoopvol dat die oorplanting vir my ’n nuwe lewe kan beteken. Ek en my ma is baie na aan mekaar, onafskeidbaar. Sy is elke dag by my huis en sorg vir alles wat ek nodig het, dit terwyl sy haar eie besigheid bestuur. Sy was ook vir baie jare ’n enkelouer en het my broer in 2015 op die ouderdom van 36 aan die dood afgestaan. Ek is so lief en dankbaar vir haar, sy is ’n ystervrou.”

vanselfsprekend

Vir Annemarie is dit vanselfsprekend om dit vir haar dogter te kan doen.

“Baie mense vra my of ek nie bang is nie, maar dit is ’n no-brainer dat jy dit vir jou kind sal doen. Dis vir my ’n voorreg om nog gesond genoeg te kan wees om na my dogter om te sien en haar lewe te kan red. Dis genade van bo.”

Annemarie steun op haar geloof.

“Dit is bitter moeilik om my enigste dogter so siek te sien. Dis hartseer en nie ’n maklike pad nie, maar as die lewe moeilik raak, kan jy nie in sak en as gaan sit nie. Jy gaan lê, of jy staan op. Die keuse is joune.”

’n Fondsinsamelingsveldtog is op Buckabuddy begin, en ’n Valenteinsdans word op Saterdag 15 Februarie by die Goodwood-sportklub gehou om die familie by te staan met die mediese onkostes wat nie deur die siekefonds gedek sal word nie. Dit sluit onder meer versorging ná die operasie in.

Besoek https://www.backabuddy.co.za/campaign/lizelle-du-plessis-kidney-transplant?fbclid=IwY2xjawG6ldVleHRuA2FlbQIxMQABHZahLWTafpvcIoOP-FZevZIThS9LLnXPJmwQQoZuYxIRdvZstlLZLy4zmA_aem_4jTbGRlO-JEfJ6oZEAFyhw of soek die veldtog op die Buckabuddy-webtuiste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article