Die nagsig-verkykers is onlangs aan die Monte Vista Plattekloof Glen-buurtwag geskenk.


Broodnodige en welkome spesialis-toerusting wat sal help om misdaad in natuurreservate te beveg, is onlangs aan die Monte Vista Plattekloof Glen- en PWP-buurtwagte geskenk.

Cheryl Visser, Wyk 1-raadslid, het verlede week op ’n Subraad 3-vergadering aan raadslede gesê buurtwagte in haar wyk het onlangs dié spesialis-toerusting ontvang, wat hulle sal help om misdaad, veral in die nabygeleë Tygerberg-natuurreservaat, te beveg. ’n Deel van die reservaat is ook op Eskom se eiendom geleë.

Visser het aan TygerBurger gesê albei buurtwagte het onlangs toerusting van die Stad Kaapstad se veiligheid-en-sekerheidsdirektoraat se ondersteuningsdienste ontvang. Dit sluit nagsig-verkykers in.

“Dit kan hulle help om ongewenste aktiwiteite, veral in die nag, waar te neem, dit aan te meld en aksie teen oortreders te neem,” sê sy.

Deon Oosthuizen, wykskomiteelid wat omgewingsake verteenwoordig en adjunk-voorsitter van die Monte Vista Plattekloof Glen-buurtwag, het ’n foto van dié verkykers gedeel.

“Ek het dit getoets en dit werk verrassend goed. Ek dink dit sal beslis help met die monitering van die reservaat, asook ander dele van die wyk waar misdadigers in donker plekkies wegkruip.

“Die verkykers belig die gebied duidelik genoeg, wat jou in staat stel om mense te kan identifiseer. Ons is innig dankbaar om dié soort tegnologie te hê in ons arsenaal om misdaad te kan voorkom.

“Dit maak dit ook onnodig om ’n gebied te fynkam deurdat ons net deur die verkykers oor die gebied kan skandeer,” sê hy.

Oosthuizen sê die Stad Kaapstad het bewys dat tegnologie soos die sogenaamde Shot Spotter, LPR-kameras, liggaam-kameras, hommeltuie en nagsig-verkykers werk om misdaad te voorkom.

Visser sê van Wyk 1 se begroting is ook weer vanjaar aan albei die buurtwagte gegee vir die aankoop van flitse en liggaam-kameras, wat sal help met hul taak om veiligheid in Wyk 1 te verbeter.

Casper Rossouw, voorsitter, sê as buurtwag maak hulle staat op donasies van inwoners en sake-ondernemings, en dat hulle dankbaar is vir die toerusting wat die departement van gemeenskapsveiligheid af en toe aan hulle skenk. Hy sê Visser verleen ook baie hulp om die donasies te prioritiseer.

“Met haar hulp het ons onlangs tien liggaam-kameras, sewe geheue-kaarte vir kameras, vier groot kegels en versper-bande ontvang om verkeer te reguleer, asook 22 fluitjies vir noodgevalle, wat ons aan vroue en ouer mense gaan oorhandig.

“Ons is dankbaar dat ons ’n raadslid het wat toegewyd is om die gemeenskap van Wyk 1 te dien, en wat die buurtwag ondersteun,” sê hy.

Subraad 3 het ook operasionele geld bewillig aan veiligheid en sekerheid om brandpunte en probleemgebiede, veral ná ure, te help beveilig deur meer gereelde operasies uit te voer, sê Visser.

TygerBurger wag nog op kommentaar van die PWP-buurtwag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article