Moenie kos aan bedelaars uitdeel, ná Goodwood-inwoner deur bedelaar uitgevloek word

Inwoners van Goodwood word gewaarsku om nie kos aan bedelaars te skenk nie.

Ter Illustrasie

Die kwessie van bedel en straatmense is ’n hoogs emosionele een en is nie uniek aan Kaapstad nie, meen Patricia van der Ross. Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

Dit kom nadat ’n inwoner van Goodwood vertel het hoe sy uitgevloek is deur ’n bedelaar omdat sy niks gehad het om te gee nie.

Die inwoner vertel dat sy Dinsdagoggend op haar stoep gesit het toe ’n bedelaar, bekend as “Charlie”, by haar hek verby stap en vra vir kos. “Ek sê toe ek het nie. Hy het ’n wit sak in sy hand gehad en my drom was toe nog buite, want weens die taxistaking is die vullis nie Maandag verwyder nie,” verduidelik die inwoner, wat weens vrees vir die straatmense wat haar ken anoniem wil bly.

Sy sê “Charlie” gooi toe die sak in die drom. “Ek het eers gewag en gaan kyk wat in die sak is. Iemand het vir hom ’n halwe wit brood, piesangs, appels, lemoene en pasta gegee. Ek het dit uitgehaal en toe die vullisverwyderaars kom, dit vir hulle gegee. Die kos was skoon,” vertel sy.

Maar sy meen die straatmense is nie honger nie; hulle kyk of jy alleen is.

“As jy niks het om te gee nie, word jy gevloek,” sê dié inwoner van Townsendstraat.

Sy rig ’n pleidooi aan die inwoners van Goodwood “om nie vir die straatmense kos te gee nie; jy lok hulle net in jou buurt in”.

’n Hoogs emosionele kwessie

“Die Stad het nog altyd mense aangemoedig om bedelaars en straatmense te help deur te skenk aan organisasies wat toegerus is om meer langtermyn-intervensies te verskaf en die persoon vir altyd van die straat af te kry.

“’n Bord kos of kontant help net vir die simptoom, maar ignoreer die probleem, aangesien die persoon sal aanhou bedel en op straat bly,” verduidelik Van der Ross.

Volgens haar is die Stad besig met ’n inisiatief om bewustheid te skep oor die lot van mense wat op straat woon. Die inisiatief beklemtoon die belangrikheid daarvan om behoeftiges ’n hupstoot te gee eerder as aalmoese.

“Die Stad se departement van maatskaplike ontwikkeling en van vroeëkinderontwikkeling doen ’n beroep op alle gemeenskappe om mense wat op straat woon op ’n volhoubare manier by te staan. In plaas daarvan om kos en ander artikels te gee aan mense wat op straat woon, ondersteun eerder skuilings wat volhoubare sorg bied.”

Verwys straatmense na skuilings

Van der Ross meen hoewel dit intuïtief soos die regte ding kan voel om te doen, vererger dit die situasie vir mense op straat en verhoed dit hulle om na ’n beter lewensgehalte te streef.

“Moedig mense wat op straat woon aan om die skuilings te gebruik waar hulle ’n ete, stort, bed en maatskaplikewerkdienste kan kry,” sê Van der Ross.

Sy meen inwoners moet pleks van goedhartigheid betoon eerder straatmense na ’n gevestigde skuiling verwys.”

“Deur ’n skuiling te ondersteun, help lede van die publiek daardie mense wat op straat woon om toegang te verkry tot geleenthede om hulself te verbeter. Hul situasie word vererger deur mense wat hulle op die strate onderhou, waar hulle aan teenspoed blootgestel word,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article