Het jy al `n gesig of `n huis op `n bordjie op jou kop geteken?
Wel, verlede week het die vroue van die VLV-Varings in Brackenfell dit gedoen onder luide gelag. Elsa Groenewald, nuutverkose onder-voorsitter van die tak, het dit ook nie maklik gemaak nie.
“Sy het punte gegee! Ons moes ook `n stywe vasvra deurloop en drie wenners het op die ou einde uit die stryd getree met `n heerlike sjokolade as geskenk,” sê die woordvoerder René Ferreira.
Maar, die hoogtepunt was dat die Varings daarná die voorreg gehad het om te reis deur Margaret Roberts, oud-voorsitter van die Kaapstad-tak, se lewe, haar toere oorsee, haar verbintenis met die grootste internasionale organisasie vir landbouvroue, Associated Country Women of the World, en bywoning van wêreldkonferensies.
“Maar veral haar borduurwerk het ons asems weggeslaan — hoe mooi om te kan terugkyk op só `n kreatiewe verlede. Sy het voorbeelde saamgebring van tafeldoeke, lopers, kussingsoortreksels en álles fyn beplan, kreatief en afgerond.”
Wolraad Woltemade uitgebeeld
Sy het vertel van die SA Nuutwoltapisserie-kompetisie waaraan die Milnerton-tak jare gelede deelgeneem het.
“Dit moes in die vorm van `n behangsel of paneel wees wat die volksgeskiedenis, volkslewe, nalatenskap, nywerhede, landbou of fauna en flora uitbeeld. Meer as een persoon kon help werk aan dié kruissteekartikel. Milnertontak se ontwerp het Wolraad Woltemade se heldedaad uitgebeeld en hulle was eerste in Kaapland.”
“Die Varings is dankbaar vir vanjaar, waarin hard gewerk is, maar ook groot suksesse behaal is. `n Spesiale woord van dank aan die VLV-Tygerbergsirkel vir hul ondersteuning die afgelope twee jaar en vir Mariëtte Krige, instaan-sekretaresse, en Atella Prinsloo, instaan-tesourier vir hul besondere bydrae en meelewing met die Varings gedurende 2024 en 2025,” voeg Ferreira by.





