Die polisie het Dougie Dyers se oorskot uit die kerk tot in Haltweg vergesel.

Credit: SYSTEM

Dougie Dyers (85) se bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby is Saterdag deur Anroux Marais, provinsiale minister van kultuur, kunste en sport, in haar huldeblyk beklemtoon.

Dyers het ’n vlak 2-staatsbegrafnis vanuit die St. Nicholas-kerk in Haltweg in Elsiesrivier ontvang. Pres. Cyril Ramaphosa het toestemming gegee dat die vlae halfstok hang vir die duur van sy begrafnis.

Marais het Dyers se nederigheid as sy uitstaande kenmerk uitgelig, want in hul samesyn het hy nooit oor sy prestasies op die rugbyveld gepraat nie, maar liewer oor sy gholf.

“By Dyers het dit nooit oor die eie ek gegaan nie, maar altyd oor die talent van bruin en swart spelers, en infrastruktuur in hul gemeenskappe wat verbeter moet word. Hy het my dus op ’n mooi manier gesê ek moet my werk as sportminister reg doen, want hy hou my dop. Hy het sy droom verwesenlik om rugby te gebruik om die speelveld vir almal gelyk te maak, en ek eer hom daarvoor,” sê sy.

Thelo Wakefield, voormalige president van die WP-Rugbyunie, het in sy huldeblyk gesê die liedjie “My Way” van Frank Sinatra vat Dyers se lewe goed vas.

“Ek het Dougie sien rugby speel as 13-jarige toe daar net twee klubs in Elsiesrivier was, naamlik sy klub, Blue Birds, en Meltons. Hy het nooit uitgetree nie, maar het ná sy speeldae ’n afrigter, mentor, WP-keurder en Springbokkeurder geword. Hy het elke rol uitmuntend vertolk, ondanks die kritiek wat hy uit alle oorde ontvang het. Hy het nooit afgewyk van sy droom om toe te sien dat elke rugbyspeler in die land ’n gelyke kans kry nie.

“Ek wil hom ook vergelyk met wat Paulus in die Bybel sê, dat jy jou nie deur die kwaad moet laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie en dis presies wat Dougie gedoen het.

“Hy is legendaries in die ware sin van die woord, want hy laat ’n onvergeetlike nagedagtenis vir almal. Hy het sy roeping getrou nagevolg en was koersvas. Hy was ook lojaal en toegewyd aan sy passie, rugby – dis eienskappe van ’n ware held,” sê Wakefield.

Dougie Dyers se kis was in die landsvlag gedrapeer en hy het ’n vlak 2-staatsbegrafnis ontvang.

Sedert die nuus gebreek het van Dyers se afsterwe, het Wakefield getrou die sosiale media dopgehou om te lees wat oor hom gesê en geskryf word.

“Harold Karele van Frankryk, een van die spelers wat onder Dougie se hande uitgekom het, het onomwonde gestel dat hy die mens is wat hy vandag is danksy Dougie se invloed – nie net as speler nie, maar ook as mens. Die verbetering van al die geriewe by rugbyklubs in die WP is danksy sy harde werk. Hy het die taak as fasiliteite-bestuurder by WP met oorgawe vervul en ek weet dit was ’n enorme taak. As lewenslange lid van die WP het hy gereeld wedstryde van die WP en die Stormers in die losie bygewoon en nooit oor homself gepraat nie. Met sy heengaan is dit nou die einde van ’n era en almal wat met hom in sy leeftyd te doen gehad het, moet nou sy werk voortsit. Dougie, ek salueer jou vir wie en wat jy is, want jy is waarlik legendaries,” is sy huldeblyk afgesluit.

Abe Williams, wat 61 jaar lank sy vriend was, het in sy huldeblyk gesê dat Dyers apartheid in Suid-Afrika deur rugby afgebreek het.

“Hy en Dok Craven het geloop met integrasie in sport en het van orals teenkanting gekry.

“Hy was een van die beste afrigters in die land en hy het die SA Rugbyfederasie versterk deur wit spelers in te sluit, soos Hempies du Toit, Hennie Bekker, Robert Cockrell en Schalk Burger Snr. (die enigste wit Springbok wat uit die WP-liga gekies is).

Van die spelers wat deur sy hande gekom het, het manne en here geword, en ook leiding in hul gemeenskappe geneem.

“Almal het gedink die land gaan brand toe hy met integrasie begin het, maar hy het die toekoms van die land gebou en voorgeloop met ’n rugbybal in sy hande.

“Ek gaan hom mis, want ek is nog die laaste een van die Drie Musketiers wat oorbly – Norman Langley het ons twee jaar gelede ontval en nou hy. Rus sag,” het Williams afgesluit.

Dyers is Saterdag in die Stikland-begraafplaas ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article