’n Afsetpunt vir mangat- en ander munisipale deksels by ’n onwettige skrootwerf in Morningstar is verlede week geknou toe die Durbanville-polisie en die Stad Kaapstad se teenmetaaldiefstaleenheid by die skrootwerf in Morningstar in Durbanville toegeslaan het.
’n Man (27) van nie-Suid-Afrikaanse herkoms is by die onwettige skrootwerf in hegtenis geneem.
Volgens die Stad Kaapstad het die Durbanville-polisie verlede Woensdagaand by ’n woning in Mossiesingel in Morningstar toegeslaan en verskeie gebreekte munisipale deksels in die grond begrawe gevind. Van die deksels was in stukke gekap en sou glo aan ’n ander skrootwerf verkoop word.
Dit het gekom nadat verskeie inwoners die polisie gebel het oor ’n harde gekap van metaal en brand van koperdrade.
Ook plaaslike raadslede het die polisie en die Stad se teenmetaaldiefstaleenheid gekontak nadat dit aan die lig gekom het die onwettige skroothandelaar koop gesteelde stadseiendom aan.
Dié optrede verlede Woensdagaand het ’n lang aanloop gehad en inligting is oor ’n tydperk deur buurtwagte en plaaslike raadslede voorsien. Volgens Craig de Lucchi, voorsitter van die Kendal Road-buurtwag, ervaar hulle al sedert Desember verlede jaar ’n skerp toename in die diefstal van mangatdeksels. Ten minste 50 mangatdeksels is sedertdien gesteel, meen De Lucchi.
Die diefstal is ook nie net beperk tot mangatdeksels nie, maar ook watermeter- en brandkraandeksels en rame van mangate.
Ook elektriese bokse van kiosks word geteiken vir die diefstal van koperdrade.
Sogenaamde “bakkiebrigades” wat in woonbuurte rondry, is op sekerheidskamers in buurte in Durbanville opgemerk en is daarmee verbind. In Februarie en Maart was ander voertuie vermoedelik ook betrokke by die diefstal van mangatdeksels, sê hy.
Volgens hom kan die polisie dikwels nie optree nie, omdat die Stad Kaapstad nie diefstalklagte aanhangig gemaak het nie.
Die ondersoek het momentum gekry toe ’n verdagte op 30 April in Fairtreesweg (naby die gholfbaan) deur ’n bejaarde inwoner opgemerk is waar hy besig was om mangatdeksels in ’n winkeltrollie te laai, en sy die buurtwag ingelig het.
Volgens De Lucchi het hy die man konfronteer en het die verdagte hom vertel dat hy dit lewer aan ’n koper in Morningstar.
’n Gewapende reaksievoertuig het intussen daar opgedaag en die verdagte het weggehardloop.
Hendri Terblanche, raadslid vir wyk 21, het ook vir Theresa Uys, raadslid vir wyk 112 en burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, gekontak om hulp. Sy het die polisie gekontak.
“Die polisie het gekla dat die amptenare by die Langeberg-depot weier om diefstalsake te open, so ek het Vincent Botto, uitvoerende direkteur vir veiligheid en sekerheid, gekontak en binne 24 uur het die teenmetaaldiefstaleenheid reageer,” sê Uys in die Stad se verklaring.
’n Foto is egter van die verdagte geneem en hy is later geïdentifiseer nadat Uys inwoners gevra het om hom en plek waar die skroot verkoop word, te bevestig. Sy het die inligting aan die polisie oorgedra.
JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, het aan TygerBurger bevestig die polisie het opgetree toe inwoners gekla het oor ’n harde gekap.
Toe die polisiebeamptes daar aankom, was daar nie geraas nie, maar hulle het die los sand opgemerk toe hulle instap om ondersoek in te stel.
Hulle het verder ondersoek ingestel en opgekapte stukke deksels onder die sand begrawe gekry.
“Dit is ’n groot probleem maar nie alle gevalle van diefstal word by die polisie gerapporteer nie,” sê Smith.
Hy het bevestig ’n verdagte in hegtenis geneem. Die verdagte is deur die polisie aangekla van die besit van gesteelde eiendom en Mandrax. Hy het in die Bellville-landdroshof verskyn.
Hy is ook aangekla van die versuim om te registreer as tweedehandse handelaar en ander oortredings van die Wet op tweedehandse goedere.
Volgens ’n buurman, Achmat Damon is die verdagte egter glo net ’n werknemer daar en was die eienaar nie teenwoordig nie.
Volgens Damon rapporteer hy en ander inwoners al maande die onwettige skrootwerf by die Stad. Hy het selfs sy stryd na die briewekolom van TygerBurger geneem.
Damon meen ook die skrootwerf is net ’n front vir die handel in dwelms. Hoewel polisielede verlede Woensdagaand beslag op net Mandrax gelê het met die optrede, meen hy enige dwelmsoort kan daar gekoop word.
Volgens hom het die Stad se teenmetaaldiefstaleenheid die volgende oggend gekom maar het die eienaar van die skrootwerf en sy vrou reeds nog van die goed daar weggery. Volgens hom was die skrootwerf weer Sondag terug in besigheid.
Die polisie het alle stadsdepartemente versoek om klagte van die diefstal van stadseiendom aanhangig te maak.
’n Beloning van tot R5 000 word deur die Stad uitgereik vir inligting van die diefstal en vandalisme van stadseiendom, wat lei tot die inhegtenisneming van die skuldiges of terugvind van die eiendom.
- iefstal van stadseiendom kan aangemeld word by 107 (vanaf ’n landlyn) of 021 480 7700 (vanaf ’n selfoon).





