Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Eersterivier het hul dank uitgespreek oor die 20 jaar-tronkstraf wat die brandstigter Ricardo Khan opgelê is.
Khan is in 2020 in hegtenis geneem nadat hy ’n trein by die Eersterivier-stasie aan die brand gesteek het. Die skade wat deur die brand veroorsaak is, het meer as R3 miljoen beloop.
Hubert Kemp van die GPF sê die vonnis word verwelkom.
“Die gemeenskap gaan reeds gebuk onder groot ekonomiese probleme en as die treine nie ry nie, plaas dit nog meer druk op hulle. Ek hoop die vonnis dien as ’n afskrikmiddel vir diegene wat hulle daaraan wil skuldig maak om openbare infrastruktuur te verwoes,” sê Kemp.
Volgens hom moet die gemeenskap ook eienaarskap neem van openbare infrastruktuur. “Treine is belangrik vir die gemeenskap omdat dit die goedkoopste vorm van vervoer is. Ons mense woon ver van hul werksplekke en ander vorms van vervoer is duur. Wanneer mense laat kom by werk kan hulle hul werk verloor. As die treine staan dan sukkel ons mense en dit weens misdadigers,” sê hy.
Hy sê die verwoesting van infrastruktuur het ’n kettingreaksie tot gevolg. “Ouers kom laat by die huis en skeep hul kinders af. Kinders sukkel om by die skool te kom en skop dan later op. Hierdie lei weer tot bendebedrywighede en ander misdadige aktiwiteite,” sê hy.
Luidens ’n verklaring deur die vervolgingsgesag het Khan se misdaad skade van R3,5 miljoen veroorsaak en nog R9 miljoen se indirekte skade word geprojekteer vir Prasa (die Suid-Afrikaanse spoor-agentskap).
“Khan, wat by die taxi-staanplek gewerk het, is skuldig bevind aan die beskadiging van belangrike infrastruktuur. Dit het tydens die hofsaak aan die lig gekom die taxibedryf vind baat vind wanneer treine beskadig word. Die beskuldigde het gesê hy is meer betaal as die taxi’s besig is,” lui die verklaring.
Die verklaring lui verder dat ’n passasier Khan aan wetstoepassers uitgewys het, waarna hy ook op beeldmateriaal uitgeken is.





