Allistair Pedro sny ’n seun se hare.


Al het hy self nie werk nie, skeer ’n man van Bonteheuwel laerskoolkinders se hare gratis om hulle reg te kry vir die nuwe skooljaar.

Allistair Pedro het verlede week op sy Facebook-blad aangekondig dat hy bereid is om minderbevoorregte seuns se hare te sny.

“Ek is bereid om 20 laerskoolseuns se hare tussen Vrydag en Sondag te sny. Kinders moet minderbevoorreg wees en in Bonteheuwel bly,” het sy eerste inskrywing op Facebook gelui.

Die boodskap het soos ’n warrelwind versprei en Pedro is wyd vir sy onbaatsugtige daad geprys.

Maar hoe gebeur dit dat iemand wat self nie werk nie so ’n oop hand het?

“Dit kom van my liefde vir kinders en veral dié wat swaarkry. Dit breek my hart om kinders te sien swaarkry. Toe ek grootgeword het, het dit ook nie altyd goed gegaan nie en ek dink dit dryf my om goed te doen,” sê hy.

Volgens Pedro, wat die afgelope vier maande werkloos is, worstel hy al jare met die idee om kinders se hare by skole te sny, maar het hy net nooit daarby uitgekom nie.

“Verlede Woensdag het ek net so gesit en weer daaroor gedink en besluit nou is die tyd om dit te doen. Ek het die boodskap op Facebook gelaai en is verbaas deur die reaksie. Elke kind verdien om netjies te lyk wanneer hy skool toe gaan en vir ’n arm mens is dit soms te duur om hare te sny,” sê Pedro, wat homself oor die jare geleer het om hare te sny.

Die plaaslike raadslid Angus McKenzie sê Bonteheuwel het meer mense soos Pedro nodig. “Wat hy doen, is presies wat ons in hierdie gemeenskap wil vermag. Elke inwoner moet ’n bydrae maak om Bonteheuwel beter te maak vir almal.

“Sy inisiatief mag dalk klein klink, maar vir mense wat sukkel is dit ’n groot gebaar. Hy is oorval met versoeke en sal sy aanbod verder uitbrei,” sê McKenzie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article