Brandbestryders veg om ’n brand in Wesbank onder bedwang gebring. Drie kinders het in die brand omgekom.

Credit: SYSTEM

Dit is net een voet voor die ander.

Dit is die woorde van die ma van Wesbank wie se drie kinders oor die naweek in Wesbank dood gebrand het.

Lentonita Makwena se kinders Leana Makwena (9), Luciano Makwena (4) en Bruce Makwena het Sarerdag in ’n brand omgekom.

Teen Dinsdagoggend het Makwena nog gewag vir die uitslae van bloedtoetse om die kinders uit te ken.

“Meneer, ek het nie woorde om te beskryf hoe seer my hart is nie. Ek kan dit nie beskryf nie. Ek sit elke dag net my een voet voor die ander,” sê Makwena.

Volgens beskikbare inligting was die kinders onder die toesig van Makwena se ma toe die brand uitgebreek het.

“Ek kan hierdie stadium nie sê hoe die brand uitgebreek het nie. Daar is nog te veel dinge wat nie sin maak nie. Al wat ek weet is dat my ma se vriend probeer het om die kinders te red, maar hy het ongelukkig ernstige brandwonde opgedoen. Vir nou wil ons net die kinders met waardigheid begrawe,” sê Makwena.

Asof die hartseer nie genoeg is nie, sukkel Makwena en haar familie om boumateriaal te kry sodat hulle hul huis kan herbou.

Sy het ’n beroep gedoen op enigiemand wat hulle kan bystaan.

Lourna Frieselaar, ’n gemeenskapswerker in Wesbank, sê die vermoede bestaan dat beurtkrag ’n rol in die brand gespeel het.

“Dit het tydens beurtkrag gebeur en mens kan net hoop dat ons eersdaags van beurtkrag verlos sal wees. Wesbank se inwoners sukkel reeds onder sosio-ekonomiese probleme en dan gebeur dit nog,” sê Frieselaar.

Jermaine Carelse, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer, het die brand bevestig.

“Die Stad se brand-en reddingspanne is omstreeks 02:15 van die brand in Braxley Crescent in kennis gestel. Op die toneel is gevind dat verskeie strukture aan die brand is. ’n Totaal van 24 brandbestryders het gespook om die vuur te blus,” sê Carelse.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article