Drie jaar ná sy tragiese dood in ’n bendeskietery in Scottsdene rou die 11-jarige Duran se ma, Anthea Visagie, nog steeds – haar enigste troos nou, haar drie-jarige seuntjie, Noah, aan wie sy die lewe geskenk het twee dae nadat sy haar oudste begrawe het.
Ook weet sy dat Duran met ’n orgaanskenking die lewe van vier ander kinders gered het.
“My kind se hartjie klop in iemand anders se borsie; my kind het gesterf, maar die Here moes ’n plan gehad het; ’n mens verstaan nie altyd al die goed nie,” sê Visagie.
Sy het die drie mense wat verwoesting gesaai het in haar en haar familie se lewe weer in die hof in die gesig gestaar toe die verhoor verlede Maandag begin het.
Die verhoor gaan die week voort met die regter wat Dinsdag die toneel besoek waar Duran geskiet is.
Die 11-jarige het op die middag van 6 Oktober 2020 snoepie toe gestap toe ’n dwaalkoeël hom buite in die straat in die kop getref het.
“Hy het net van die skool af gekom, sy klere uitgetrek en winkel toe gehol om ’n Coke te gaan koop. Hy was net uit, toe hoor ons die skote afgaan, vyf skote. Ek het vir my ma gesê ek kan voel iets het met my kind gebeur, toe hoor ons net die mense buite skreeu. Ek het uitgehardloop maar kon nie naby hom kom nie. Hy het glo na my geroep, en toe is hy weg,” sê Visagie, wat toe nege maande swanger was.
Breindood verklaar
Nooddienste het hom hospitaal toe gejaag waar dokters hom breindood verklaar het. Terwyl hy aan lewensondersteunende masjiene gekoppel was, is Visagie oor moontlike orgaanskenking genader.
“Ek het my toestemming gegee sodat Duran se organe vier ander kinders se lewe kon red. Op 8 Oktober is die masjiene afgeskakel en op die 17de het ek hom begrawe. In my tyd van rou, twee dae later, is Noah gebore.”
’n Dag ná Duran se dood is vier verdagtes, almal onder 21, in hegtenis geneem.
“Ek wil net hê die hofsaak moet nou klaarmaak. Ek kan nog nie aanbeweeg nie. Ek het my werk verloor en ek sukkel nog elke dag om sterk te wees en ma te wees vir Noah. Elke dag raak die realiteit my nog dat my kind regtig dood is. Dis te erg . Wonde wat oopgaan om in die hof te sit en luister na getuienis. Ek wil net closure hê en dat die mense erken wat hulle gedoen het dat ek hulle kan vergewe en so self genees,” het sy Vrydag aan TygerBurger gesê.
Duran sou vanjaar 14 gewees het, en ’n kranige rugby speler, sê Visagie.
“Hy het soveel talent gehad en wou eendag vir die Springbokke speel. Hy was so lief vir rugby en ek het nooit enige van sy wedstryde misgeloop nie.
Visagie en haar ouers bly nog in dieselfde straat waar die skietery gebeur het en sy vrees vir haar jongste kind.
Sy sê die vorige burgemeester van Kaapstad Dan Plato se personeel het haar besoek ná Duran se dood en ’n huis belowe, maar sy weet nie vandag hoe of wanneer sy dié huis gaan kry nie.
“Die ergste is om nog hier in Josephstraat te bly. Ek wil nie hê Noah moet ook seerkry nie. Hulle skiet nog elke dag en ek kan dit nie meer hanteer nie.”





