Misdaad het die afgelope week in Bellville hoogty gevier, met verskeie opspraakwekkende sake wat die voorstad geruk het.
Verlede Woensdagoggend het ’n boemelaar ’n gruvonds gemaak toe hy op ’n babalyk in Lindastraat in De La Haye afgekom het.
Charlotte du Toit, wyksraadsassistent wat op die toneel was, sê sy het op ’n WhatsApp-groep van die voorval te hore gekom.
Die polisie en ambulansdienste het daar aangekom toe sy daar was.
Sy sê dit was dadelik duidelik dat die baba nie gered kon word nie.
Du Toit en ander ooggetuies sê die baba was baie klein en dat dit dus ’n miskraam kon gewees het.
Jaagtog
In ’n ander voorval, wat verlede Donderdag gebeur het, het Chrismar-inwoners met skok uit hul huise gejaag toe hulle ’n groot geraas gehoor het.
Buite gekom het hulle gesien ’n motor, met die polisie op sy spoor, het teen ’n muur en ’n inwoner se kar gebots.
Volgens Anelisiwe Manyana, polisiewoordvoerder, het die jaagtog begin toe polisielede ’n verdagte voertuig in Vrede Straat in die middedorp gesien het.
“Die polisie het die kar probeer voorkeer, maar die bestuurder het weggejaag,” sê sy.
Die polisie het teen ’n hoë spoed agter die verdagte aangejaag, voordat hy die kar gestamp het.
Die man is op aanklagte van dronkbestuur en die besit van ’n onwettige vuurwapen in hegtenis geneem.
Vervalste goedere, rooftog
Op Vrydag het die polisie in die middedorp toegeslaan en op R75 miljoen se vervalste goedere, asook R200 000 kontant, beslag gelê.
Dié klopjag het saamgeval met die polisie se bekendstelling van sy veldtog om ’n veiliger feesseisoen te vier.
Op Saterdag het nog ’n voorval plaasgevind toe gewapende mans op die Sunbel-gebou in die middestad toegeslaan het.
’n Ooggetuie sê daar was ses mans en twee motors in dié voorval betrokke. Niemand is in die voorval beseer nie.
Volgens kapt. Aubrey Morwenyane, Bellville se polisiewoordvoerder, het vyf gewapende mans rondom 12:30 ’n winkel bestorm.
Twee het na die agterkant van die winkel gegaan en sowat R11 000 gesteel, asook ’n klomp botteltjies parfuum. ’n Saak van besigheidsrooftog is geopen.
In nog ’n voorval, wat verlede Maandag plaasgevind het, het die polisie om 20:45 ’n oproep ontvang oor die lyk van ’n man wat op die hoek van Tienie Meyer-rylaan lê. ’n Saak van manslag is geopen.
Enigiemand met inligting oor enige van die sake, kan 08600 10111 skakel.





