Ná haar topvyf-sukses in die onlangse Mej. Suid-Afrika-kompetisie, sien die Brackenfellse model Luvé Meyer uit na dit wat nou voorlê – toegerus met die waardevolle lesse wat sy tydens dié reis geleer het.
“Ek het geleer dat as ’n mens groot dinge wil bereik in die lewe, gaan dit gepaard met harde werk, baie verantwoordelikheid en soms ook teleurstelling. Dit gaan nie altyd maklik wees nie, maar ek glo alles gebeur met ’n rede en werk ten goede mee,” het sy verlede week aan TygerBurger gesê.
Sy is positief oor die uitkoms van die kompetisie.
“Ek het my alles ingesit en deelgeneem met die doel om te wen, maar is baie trots op my prestasie om onder die topvyf- meisies in die land te kon wees.
“Die kompetisie behels soveel aspekte; dis meer as net mooi wees, dis baie harde werk. Jy is maande lank onder die vergrootglas en moet jouself ken.
“Jy moet jouself kan artikuleer in onderhoude en ook met die publiek kan werk. Dan is die sosialemedia-aspek van die kompetisie ook baie belangrik en jy moet kritiek kan verduur. ’n Mens moet sterk wees,” sê sy.
Dankbaar
Luvé is veral baie dankbaar vir die tyd wat sy saam met die ander finaliste deurgebring het.
“Hulle was ’n groot inspirasie en ek het geweet wie ook al wen, dit iemand gaan wees wat dit verdien.
“Ons het mekaar ondersteun en baie by mekaar geleer. Ek het gesien wie hulle is as niemand kyk nie – opreg en met ’n hart vir mense. Dit gee my hoop vir ons land,” sê sy.
Met die kompetisie agter die rug spits sy haarself nou toe op haar modelloopbaan en deeltydse foto- en videografie-onderneming.
“Daar is ’n besige seisoen om die draai en ek het reeds begin met voorbereiding; dinge gaan besig raak.”
Studies kry aandag
Met ’n honneursgraad in sielkunde agter die blad is sy ook tans besig om haar studies in teologie en leierskap te voltooi.
“Die kompetisie het my baie besig gehou vanjaar en ek moet nou die verlore tyd met my studies inhaal.
En sal sy dit weer doen?
“Dit was só die moeite werd en baie mense het vir my gesê ek moet weer inskryf. Om eerlik te wees, het ek geen rede om dit nie weer te doen nie.”





