In ’n loopbaan van 42 jaar, waarvan 25 as skoolhoof, het Francois van Wyk (65) vele veranderings in die onderwys meegemaak.
Van Wyk het met maandeinde die laaste keer sy kantoordeur by die Laerskool Irista, waar hy die afgelope nege jaar skoolhoof was, agter hom toegetrek.
Hy is in Carnarvon gebore, maar het as 11-jarige saam met sy gesin Kuilsrivier toe gekom.
“My vormingsjare was hier in Kuilsrivier en deur my studentejare en loopbaan het ek nog steeds hier gewoon.”
Hy vertel hy het eers regte gaan studeer vir twee jaar. “Weens die politiek in die land het ek nie my regstudies voltooi nie.”
In sy finale jaar van onderwysstudies aan die Bellville-kollege was hy op die studenteraad. Met na-uurse studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland het hy graad gevang en toe ook nagraads aan die Stellenbosch Universiteit studeer. Later volg teologiestudies en tans is hy ’n eerwaarde, geaffilieer aan ’n internasionale kerk, vertel Van Wyk.
Hy het sy onderwysloopbaan in 1982 by die Laerskool Florida in Ravensmead begin.
“Daarna is ek na Tuscany Glen (in Eersterivier), waar ek deel geword het van die bestuurspan. Op 10 Oktober 1998 word ek skoolhoof by Parkdene in Scottsdene in Kraaifontein.”
Sedert 2014 is hy hoof by Irista.
“Dit voel soos nou die dag dat ek begin het. Tyd is vlietend. Ek het in my loopbaan geleer: Carpe diem, ‘cease the moment’, dit het my wagwoord geword.”
Van Wyk vertel hy kom uit ’n onderwysfamilie.
“My oorlede pa was ’n skoolhoof en my oorlede ma was ’n onderwyser. Ek is die oudste van drie; my suster was ’n onderwyseres en my oorlede broer was adjunkhoof en vir ’n kort tydperk waarnemend.”
Veranderings
In die onderwys het hy baie kurrikulum- en beleidsveranderings beleef – van Christelik-Nasionaal tot uitkomsgebaseerde onderwys, tot Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) en “nou kom nog ’n verkorte kurrikulum”.
Daar was ook heelwat politieke veranderings. “Ek het begin onder administrasie kleurlingsake en in ’n stadium onder die raad van verteenwoordigers skoolgehou. En dan was daar die demokratisering, die pre-1994-regering …”
Hy laat skemer deur dat verandering nie altyd verbetering meegebring het nie, en dat dissipline en respek nie meer soos eens lyk nie.
”Alles is nou demokraties; lyfstraf mag nie meer toegepas word nie. Die leerders se regte word hoër geag as dié van die onderwyser. Dikwels het ek die indruk gekry dat die morele en etiese verval van gemeenskappe sy oorsprong by die skool het, want ons stuur tog die produkte uit na die gemeenskap. Die skoolstelsel het ons gemeenskap gefaal, asook ons land.”
Hy het die bitter en soet in onderwys deurgemaak, sê Van Wyk.
“Maar in die laaste nege jaar as hoof by die skool (Irista) het die samewerking van die hele onderwysgemeenskap dit vir my soet gemaak – die ouers, onderwysers, leerders, asook die nie-onderwysorganisasies wat die skool ondersteun het. Daarom word Irista as ’n pronkstuk in die distrik beskou.”
Van Wyk is tevrede dat hy ’n funksionele skool kan agterlaat. “Dit span die kroon op ’n onderwysloopbaan van 42 jaar dat die skool ’n baken van hoop vir die gemeenskap en die episentrum van gemeenskapsbedrywighede geword het.”
“Ons het van die bestaan van Covid-19 ons voedingskema bedryf tot vandag toe. Tydens die pandemie het ek by die senior landdros toestemming gekry dat die onderwysers skool toe kon kom om vir die outjies modules af te rol.
“Ons het besluit om met ’n tuinprojek te begin. Ons tuin was eerste in sy kategorie in die Wes-Kaap. Ons voedingskema het landswyd derde gekom.”
Van Wyk vertel verskeie strukturele veranderings is by Irista aangebring. ’n Donasie van amper R1 miljoen in 2016 is gebruik om ’n nuwe rekenaarlokaal in te rig met meubels en 41 rekenaars, al die klaskamers het interaktiewe witborde gekry en die ablusiegeriewe is van hoek tot kant geteël en met nuwe wasbakke en krane toegerus. Danksy ’n wenprys het die sportveld en groentetuin ’n besproeiingstelsel gekry.
“Ons het ’n nuwe etos en kultuur by onderwysers begin skep. Die hoop is dat my opvolger dit sal voortsit.’’
Daar is altyd hoop
“Ek het nog altyd geglo, en dis telkemaal in my 65 jaar waar bewys, dit wat jy saai gaan jy maai. Dit is ’n wet van Jesus Christus en ook ’n wet van die lewe. Dis hoekom ek gemotiveer was om die goeie te saai. Te midde van ongewildheid – maak nie saak uit watter sektore nie – het ek geglo dat die kind die beste opvoeding moes kry.”
Van Wyk sê dit is immers deur opvoeding dat hyself ’n skoolhoof kon word. “My gemeenskap wat ek gedien het, is op talle terreine benadeeld. Ek hoop my skamele bydrae kan ander motiveer, want daar is altyd hoop in elke gemeenskap, om daai hoop te laat ontvlam en te ontbrand.”
Hy reken daar moet ’n vennootskap wees tussen ouers en die skool oor wat kinders by die huis moet leer en by die skool. Deesdae sien hy ’n kultuur van toe-eiening en ouers wat van die skool verwag om die kinders maniere te leer, hulle akademies op te voed, hulle met voedsel te voed en as hulle siek is, kliniek toe te vat. Maar dit is darem nie almal nie, sê hy.
“In my loopbaan het ek met die adel van onderwys te doen gehad – hulle wat my onwetend aangespoor en gemotiveer het om aan te hou. En dan het ek ook te doen gehad met mense wat nooit in die beroep toegelaat moes gewees het nie.”
Om ’n goeie onderwyser te wees moet daar passie wees, stem hy saam.
Van Wyk sê daar was baie onderwysers wat hom as skoolhoof gehaat het. “Ek wou weet hoekom is jy laat, hoekom is jy nie in jou klas nie?” Ongewildheid het hom nooit te veel gepla nie, want sy eie pa se woorde was: ‘as jy te gewild is, moet jy bekommerd raak’.





