Die tennissterre is (voor van links) Matthew Daschner en Justin Adams. Agter is Jan van Dyk (afrigter), Luca Visser, Preston Adams en Muller van der Westhuizen (afrigter en tennishoof).
Die tennissterre is (voor van links) Matthew Daschner en Justin Adams. Agter is Jan van Dyk (afrigter), Luca Visser, Preston Adams en Muller van der Westhuizen (afrigter en tennishoof).

Die Laerskool Durbanville se seunstennispan het geskiedenis gemaak by die nasionale Rising Star-tennistoernooi deur as die landwye kampioene gekroon te word.

Die tennistoernooi het van 31 Oktober tot 2 November in Gauteng-Oos plaasgevind. Die span van die Laerskool Durbanville het die Wes-Kaap trots verteenwoordig.

Die toernooi, wat deur Tennis Suid-Afrika aangebied word, is ’n nasionale byeenkoms waar die beste tennisskole uit al die provinsies teen mekaar meeding.

Die vier jong tennissterre is Justin Adams, Mathew Daschner, Preston Adams en Luca Visser.

“Meer as 800 skole het aan die kompetisie deelgeneem. Net om daaraan deel te neem, is reeds ’n groot eer, maar hierdie seuns het groter drome gehad en dit met hul uitsonderlike spel bewaarheid,” sê Jan van Wyk, tennishoof van die skool.

Hulle het in die eindstryd teen die verdedigende kampioene, Uhmlali Prep van KwaZulu-Natal, te staan gekom.

“Met uitstekende spel, spanwerk en deursettingsvermoë het hulle hul teenstanders oorrompel en die trofee huis toe gebring. Hierdie oorwinning is besonders, aangesien dit die eerste keer is dat ’n skool uit die Wes-Kaap hierdie nasionale titel verower,” sê Van Dyk.

“Die vier seuns het nie een wedstryd verloor vanaf die uitspeelrondes nie. Hulle het eers as WP-wenners, toe as Wes-Kaapse kampioene, en nou as nasionale kampioene geskitter,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article