Om nooit weer ‘n telefoon te beantwoord, hekke oop te sluit of klokke te lui nie is waarna Lynette Goliath na 43 jaar as sekretaresse van Watsonia Primêre Skool in Kraaifontein, die meeste uitsien.
Sy maak hierdie kwartaal klaar by die skool en sal met God se wil nou meer vir haar kleinkinders wil gaan kuier.
“Ek is oorspronklik van Ravensmead maar het Scottsville toe verhuis en my hoërskoolloopbaan hier voltooi. Ná matriek het ek ‘n sekretarile kursus by die destydse Handelskool in Athlone voltooi en het saam met die eerste hoof die skool geopen. Ek sal nooit my eerste dag as sy sekretaresse vergeet nie, want hy het my drie keer teruggestuur met die glas water wat hy gevra het, omdat ek die water in ‘n vuil glas geskink het. Daarna het ek gesorg dat glasse en koppies skoon is voordat ek iets te drinke vir besoekers of hoofde aanbied,” se sy.
Altyd stylvol en netjies
Goliath het ‘n ander droom as sekretaresse gehad.
“In my verbeelding het ek gesien hoe ek die sekretaresse van ‘n grootkop in ‘n groot maatskappy is, waar ek gereeld saam met hom op sakebesoeke per vliegtuig, plaaslik en oorsee, sou reis. Maar toe eindig ek op hier as skoolsekretaresse en die droom is toe nie verwesenlik nie,” skerts sy.
By die Handelskool in Athlone is hulle geleer wat jou sekretariële pligte is, foonetiket en dat jy altyd stylvol en netjies aangetrek moet wees, omdat jy die eerste persoon is wat die skool verteenwoordig.
“Ek het altyd een van ons kerksusters Bettie Bailey bewonder vir haar smaakvolle styl, sy kon elke dag deur ‘n ring getrek word en dit was my droom om soos sy in my werk te wees. Wanneer ek my vriende en familie vermaak het, het ek die rol as sekretaresse gespeel, want dit was my droom en ook om te reis. In die tagtigerjare kon jy net ‘n verpleegster, onderwyser, maatskaplike werker of sekretaresse word, want die wye beroepskeuses van vandag was nie deel van beroepskeuses of voorligtingklasse op skool nie,” se sy.
In die meeste leerders se huise ontbreek daar ‘n vaderfiguur en moet die oumas gewoonlik inspring om hul kleinkinders op hul staatstoelae groot te maak.
“My raad aan my opvolger is dat jy behulpsaam, vriendelik en ‘n ruim hart vir ons leerders moet hê. Die meeste leerders kom uit moeilike huislike omstandighede en hul gedrag is ‘n uitdaging. Wees neutraal, met ander woorde, moenie kant kies nie, maar wees ‘n goeie luisteraar. Boonop word jy as sekretaresse in dieselfde lig as ‘n sielkundige, verpleegster of maatskaplike werker beskou, en dit sonder enige formele opleiding in enige van die studierigtings. Jy moet ook die hartlikheid skep sodat ouers, leerders en onderwysers die vrymoedigheid het om na jou te kom vir enige raad,” se Goliath.
Sy noem ook dat om ‘n sekretaresse by ‘n skool te wees, ‘n uitdagende beroep is.
“In die meeste leerders se huise ontbreek daar ‘n vaderfiguur en moet die oumas gewoonlik inspring om hul kleinkinders op hul staatstoelae groot te maak. Dwelmmisbruik is ook ‘n euwel in Kraaifontein en baie grootouers verloor hul kinders aan die euwel en die probleem vloei oor na die skool toe. As my opvolger dit alles in aanmerking neem, sal sy ook dalk 43 jaar by die skool aanbly,” se sy.
Op die sportsoorte wat Watsonia Primêre Skool die eerste keer aangebied het, is sy baie trots, want sy was deel daarvan. Die skool het boogskiet, landlope en atletiek tot nuwe hoogtes geneem en die skool spog met sportmanne en -vroue wat provinsiale en nasionale kleure verwerf het. Sy wens haar opvolger voorspoed toe.





