Hulle het op huise se dakke gestaan en bo-op verkeerstekens en ligte geklouter om hul helde te sien, want Kapenaars sou nie die geleentheid laat verbygaan om hul Springbok-helde te sien nie.
Die Springbokke het onlangs die eerste span geword wat vier keer die wêreldbeker kon wen toe hulle hul rugbykroon wat in 2019 in Japan gewen is, verdedig het. Met hul aankoms in die land het hulle die beker op ’n toer deur Gauteng, Kaapstad en Oos-Londen geneem.
Op die Kaapse been het die bus in die middestad, Langa en ook in Bonteheuwel ’n draai gegooi en dié gemeenskappe het in hul duisende opgeruk om vir ’n vlietende oomblik ’n oog op hul helde te kry.
’n Man langs die pad het aan TygerBurger gesê hy sou die geleentheid om die Springbokke te sien vir niks in die wêreld mis nie.
“Ek gaan hier wag tot hulle verby kom,” het Brandon Jaftha gesê, terwyl hy en sy hele gesin in Springbokklere geklee was.
Angus McKenzie, plaaslike raadslid, sê dit was met trots, opgewondenheid en nederigheid wat Bonteheuwel die Springbokke verwelkom het.
“Dit is ’n groot prestasie vir Bonteheuwel om vir die eerste keer ooit die wêreldkampioene te verwelkom. Ons hoop om as ’n gemeenskap soos die Bokke uit die as te verrys,” sê Mckenzie.





