Kalmte ná die storm? Probleemhuis in Bellville met stene toegebou

Die probleemhuis in Mooigezichtstraat in Chrismar. FOTO: Nielen de Klerk


Chrismar-inwoners hoop nou vir kalmte nadat die Stad die ingange na ’n berugte probleemhuis toegebou het.

Dié huis jaag al vir maande die bloeddruk in die buurt op omdat dit deur haweloses oorgeneem is.

Volgens Theo Galloway, voorsitter van die Chrismar-buurtwag, is die oorspronklike eienaar van die huis dood.

Niemand het die erf daarna netjies gehou of ingetrek nie, en mettertyd het haweloses oral hul intrek geneem.

Met TygerBurger se besoek ’n paar maande gelede het hope rommel die hele erf rondgelê. Drie hawelose mense het in ’n stinkende kamer op ’n ou matras gelê. Toe hulle deur buurtwaglede gevra is om die erf te verlaat, het hulle gesê dis hulle huis. Die een het gesê sy wil nie na ’n nagskuiling toe gaan nie, want “dit is nie die plek vir my nie.”

Die hoofhuis en motorhuis se vloere is gebrand soos iemand ’n vuur gemaak het en dit buite beheer geraak het.

Sommige kamers het so erg na riool geruik dat dit moeilik was om deur te stap. Alles van waarde is glo gestroop.

Galloway het toe gesê as buurtwag moes hulle self elke paar dae die erf skoonmaak.

Die probleem is nie noodwendig die haweloses self nie, maar kriminele wat tussen haweloses skuil.

Aanval

Die hele situasie het ontplof toe ’n man, Wiehan Smalberger, glo aangerand is deur haweloses wat die huis gebruik.

Smalberger, wat sy nier in die aanval verloor het, was op pad na sy werk by die OK Foods Blomtuin in Suikerbosstraat.

Inwoners het aksie geëis, hoewel die aanvallers nooit in hegtenis geneem is of met sekerheid met die huis verbind kon word nie.

Teen daai tyd het Annelize van Zyl, raadslid vir die area, al toestemming gekry om die ingange na die huis met bakstene te vul. Daar is nou geen toegang meer na die huis vir skuiling nie.

Sy en lede van die Stad se probleemgebou-eenheid het die werk verlede week inspekteer. Galloway het ook ’n draai gemaak.

Van Zyl en Galloway het die amptenare vir hul harde werk bedank. Galloway het gesê die haweloses “haat nou die amptenare” omdat hulle nie meer binne die huis kan kom nie.

Hy en ander inwoners is dit eens dat daar nou minder mense die erf betree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article