Mits die kragvoorsiener Eskom iets doen omtrent die terrein langs die N7-snelweg – waar van sy kabels onlangs gevandaliseer en gesteel is – gaan die voortslepende vandalisering en diefstal van sy eiendom nie stop nie.
Só meen Mario Borchards, voorsitter van die Bothasig-inwonersvereniging (BRA).
Borchards en TygerBurger het die spesifieke terrein verlede Vrydag besoek.
Tydens die besoek is die koerant meegedeel dat die probleem nie gaan ophou alvorens Eskom ’n heining rondom die perseel oprig nie, om sodoende die diewe uit te hou.
Hy stel ook voor dat Eskom die kabels in betonhouers plaas, wat dit moeilik sal maak om by die kabels uit te kom. Daarbenewens stel hy ook voor dat sekuriteitsbeamptes aangestel word om die terrein te beveilig en dat die polisie die gebied meer gereeld moet patrolleer.
Krag sowat 70 uur lank af
Bothasig was twee naweke gelede vir byna drie dae in donkerte gehul weens gevandaliseerde kragkabels wat die gebied van elektrisiteit voorsien. Die krag het op Saterdag 12 Oktober vroegoggend reeds afgegaan en die laaste paar wonings se krag is eers Maandag 14 Oktober omstreeks 21:45 herstel, sê Borchards.
Hy sê die mense wat daarvoor verantwoordelik was, is vermoedelik van die nabygeleë Dunoon. Hy voer aan dat hulle snags by die terrein die kabels vandaliseer en steel, en dat ’n voertuig ook waarskynlik gebruik word om die swaar kabels te vervoer. Die kabels is sowat ’n meter onder die grond en die span werk vinnig om dit te verwyder, sê hy. Die laaste voorval is glo op kringtelevisie opgeneem.
Volgens Borchards kan ’n kilogram koperkabels tussen R100 en R160 haal.
In ’n brief wat BRA met die media gedeel het, sê die organisasie hy is keelvol vir die vandalisme en diefstal. Volgens Borchards is dit al die derde keer dat so iets gebeur. Hy sê die kragonderbreking het wonings en besighede ’n knou toegedien. Hy sê baie seniors in die gebied maak staat op die elektrisiteit vir gesondheidsredes soos byvoorbeeld hul suurstofmasjiene.
Impak op gemeenskap
In die brief sê Borchards dat die vandalisme en diefstal ’n voortslepende probleem is wat die gemeenskap negatief raak.
“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners en ondernemings moet ly omdat Eskom faal om sy infrastruktuur behoorlik te beskerm,” sê Borchards.
Miquette Temlett, wykraadslid, het in haar eie brief aan die gemeenskap haar ongelukkigheid meegedeel.
“As raadslid is ek diep gefrustreerd en bekommerd oor Eskom se onvermoë om sy belangrike dienste te bestuur.
“Ons maak staat op ’n organisasie wat daarin faal om verantwoordelikheid te neem, of spoedig met oplossings vorendag te kom. Ondanks aanhoudende pogings om duidelikheid te kry, word ons begroet met stilte. Dit is nie net ’n tegniese kwessie nie, maar ’n duidelike minagting vir die welstand van die gemeenskap van Bothasig,” skryf sy.
Sy stel ook voor dat Eskom veiligheidsmaatreëls instel om sy eiendom te beskerm.
TygerBurger het aan Eskom se mediakantoor en woordvoerder, Kyle Cookson, vrae gerig waarin die bewerings oor min of geen kommunikasie, en die beveiliging van sy infrastruktuur opgehaal is. Eskom het egter net sy jongste verklaring oor die voorval aan die koerant gestuur, waaroor daar reeds verlede week berig is, (“Bothasig heel naweek sonder krag”, 16/10)





