In die “vergete woonbuurt” van Kaapstad moet belastingbetalers in Joostenbergvlakte nou self opdok vir basiese riooldienste nadat die Stad Kaapstad van 1 Julie nie meer inwoners se septiese tenks gratis uitpomp nie.
Aangesien die woonbuurt, waar residensiële erwe is nie oor riool-infrastruktuur beskik nie, word inwoners genoodsaak om septiese tenks te gebruik, wat die Stad voorheen ses keer per jaar gratis uitgepomp het.
“Ons is in die jaar 2023, maar gebruik steeds septiese tenks. Die diens word nou weggevat omdat ons as residensiële belastingbetalers nie meer daarvoor kwalifiseer nie,” sê ’n inwoner, Elize Swart.
Volgens haar is inwoners ook nie oor die besluit geraadpleeg of voor die tyd daarvan verwittig nie.
“Ons het eers daarvan te hore gekom toe ons die wykraadslid gebel het. Daar is nie e-posse of briewe aan ons gestuur nie, en ons het geen redes of verduidelikings ontvang nie. Tog is ons erfbelasting onlangs aansienlik opgeskuif,” sê Swart.
Paaie geskraap
Benewens dit, het die grondpaaie in Joostenbergvlakte, waarvan sommige net ’n paar keer per jaar geskraap word, ook nie straatligte of ’n stormwaterstelsel nie – slegs slote.
“Die enigste rioolpyplyn loop langs die N1 af en bedien net een kant van een straat in die hele woonbuurt. Drie jaar se versoeke om aan die pyplyn wat net 100 m van ons huis af is, gekoppel te word, val ook op dowe ore.”
Swart, wat tans sowat R1 500 per maand vir erfbelasting betaal, sal nou ook ’n verdere sowat R14 000 per jaar moet opdok om die gesin se septiese tenks sewe keer per jaar deur private diensleweraars te laat uitpomp.
Sommige gesinne, sê sy, moet sowat 10 keer per jaar uitpomp.
Swart sê daar is inwoners wat al voorheen riool in die grond gestort het.
“Dit is onwettig en ’n groot gesondheidsrisiko, wat ons ook al vir jare rapporteer, maar niks van kom nie. As daar 10 mense op een eiendom bly wat 10 keer per jaar hul septiese tenk in die grond in uitpomp, kan jy net dink hoe die grondwater besoedel gaan word?
“Ek praat namens baie gesinne as ek sê ons is bitter ongelukkig hieroor. Die enigste diens wat die munisipaliteit aan ons gelewer het, is nou weggevat. Waarvoor betaal ons belasting?
Toe Swart drie jaar gelede ’n tweede gebou op haar erf gebou het, moes sy R44 000 vir ontwikkelingsbydraes betaal waarvan meer as R8 500 vir riooldienste was, R3 800 vir stormwaterpype en R26 000 vir paaie.
“Ons is ’n vergete woonbuurt.
“Nêrens anders sal dit toegelaat word nie,” sê sy.
“Ons betaal geweldig baie erfbelasting aangesien ons groot erwe het, maar absoluut niks word in Joostenbergvlakte gedoen nie,” sê sy.
Reeds in 2023-’24-begroting
In antwoord op ’n medianavraag het die Stad Kaapstad gesê dat die besluit om septiesetenkdienste te verwyder in die 2023-’24- begrotingsproses goedgekeur is, en dat inwoners tydens die proses die geleentheid gehad het om kommentaar te lewer.
Die diens sal voortaan net aan geregistreerde skuilings vir haweloses en hulpbehoewendes gelewer word, volgens Zahid Badroodien, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie.
Die staking van die dienste, sê hy, strook met die veranderings wat die Stad in 2017-’18 aangebring het, toe gratis basiese dienste reeds vir alle residensiële kliënte gestaak is, maar slegs vir goedgekeurde hulpbehoewende inwoners in stand gehou is.
“Kommunikasie is reeds gestuur aan kliënte wat direk deur hierdie verandering geraak word. Dit is ook benadruk as deel van die wysigings in die begroting met die Stad se advertensies van die algehele begroting, waaroor kliënte die geleentheid gehad het om kommentaar te lewer gedurende die konsultasietydperk in April 2023,” sê Badroodien.
“Vir ’n volhoubare diens word van alle kliënte verwag om vir die dienste te betaal,” sê hy.
Swart sê egter geen melding van die spesifieke veranderinge is direk aan belastingbetalers gemaak nie.
“Ek weet nie waar die advertensies verskyn het nie, maar die Stad het ons adresse en e-posadresse waarna ons rekeninge elke maand gestuur word.”
Rhynhardt Bresler, wykraadslid, sê hy was nie bewus daarvan dat die diens gestaak is totdat ’n inwoner hom daaroor gekontak het nie.
“Ek self is ook deur die beamptes verwittig dat die veranderings in die blaaie van die nuwe begroting aangebring is nadat ek ’n navraag gerig het.”
Volgens Bresler sal die uitbreiding van riool- en ander infrastruktuur in Joostenbergvlakte afhang van toekomstige ontwikkeling in die gebied, wat tans ’n brandpunt in die gemeenskap is.





