Talle mense wag tans op hete kole vir Stad Kaapstad om finaal te besluit of ’n voorgestelde ontwikkeling in Boston mag voortgaan.
Die ontwikkeling aan die punt van Mullerstraat in Vredelust is al vir jare ’n twispunt tussen sommige inwoners en die eienaars van die erf, die maatskappy Utilitas.
Utilitas is onder meer bekend vir Eureka-tehuis (voorheen Huis André van der Walt), wat in Durbanweg geleë is.
Hulle besit en bedryf egter ook klomp ander tehuise in Bellville en Durbanville en wil die erf in Boston in nog een omskep.
Daar sal plek wees vir 28 kamers vir bejaardes, asook 20 beddens in ’n afdeling vir verswakte bejaardes.
Die inwoners glo egter die ontwikkeling sal die buurt permanent ten slegste verander.
Die ontwikkeling kan egter nie plaasvind indien die Stad nie die hersonering van die erf goedkeur nie.
Die erf is in ’n cul-de-sac en inwoners glo dit gaan toegang tot die buurt belemmer en verkeer vererger. Dit baan ook die weg vir soortgelyke ontwikkelings in ’n buurt, wat tot dusver redelik ongeskonde is.
In hul oorspronklike aansoek in 2021 meen Utilitas die erf van 3 605 m² is perfek vir ’n tehuis omdat dit so groot is.
Hulle sê ook die erf is spesifiek in 2018 vir hierdie doel gekoop. Dit is naby hospitale en daar is boonop ’n reusetekort aan behuising vir bejaardes.
Die huidige huis is in 1954 gebou, is net duskant die N1 en nie meer ’n aantreklike plek vir gesinne om te bly nie, lui die aansoek.
Geskiedenis
Die twis kom al van Oktober 2020 af toe Utilitas vir die eerste keer aansoek gedoen het om die erf te laat hersoneer. Altesaam 35 mense het toe beswaar aangeteken.
Dié aansoek is egter in 2021 teruggetrek en met ’n paar verstellings aangepas en weer ingedien.
Uiteindelik het 20 mense beswaar teen die ontwikkeling aangeteken.
Die Stad se munisipale beplanningstribunaal het in Maart vanjaar in Utilitas se guns beslis.
Die Stad het onder meer gesê die openbare belang is te groot om dié aansoek af te keur en dat dit saamval met die Stad se planne om die hele gebied meer te ontwikkel. Boonop, sê die Stad, gaan dit nie die regte van enige ander bure skend nie.
Utilitas se blydskap was egter van korte duur omdat inwoners byna dadelik appèl aangeteken het.
Die beplanningstribunaal het in Junie vergader om die appèl aan te hoor.
Waar die tribunaal gewoonlik net op geskrewe besware hoef te besluit, het inwoners – met prokureurs – hul saak mondelings kom stel.
Die finale uitspraak word binne die volgende twee maande verwag.





