Rommel lê agter ’n Vibracrete-muur in Silversands.


’n Inwoner van Silversands is woedend omdat mense glo rommel agter sy huis strooi.

Isaac Stevens, wat in Hockenheimstraat woon, sê die rommelstrooiery is reeds so erg dat rotte al in van sy bure se agterplase gewaar is.

Die rommel word agter ’n Vibracrete-heining, wat sy huis van ’n oop veld skei, gegooi.

“Dit is weens die gemors dat die rotte opdaag. Mense en rotte kan nie saamlewe nie,” sê hy.

Stevens sê hy kan dit nog nie bevestig nie, maar hy vermoed dat die mense wat die rommel strooi, deur ’n hoërskool in die straat se perseel beweeg.

“Ek wil nog vasstel, maar die enigste manier om by die plek te kom waar die rommel gestrooi word, is om deur die skool te gaan. Dit sal kommerwekkend wees as hulle toelaat dat rommelstrooiers deur hul perseel beweeg, want rommel so na aan mense is nie goed nie. Die vrees bestaan dat as een mens eers begin, ander sal volg,” sê Stevens.

Shaun Banda, Stevens se buurman wat reg langs die skool woon, sê hy moes reeds planne maak met rotte wat hy in sy agterplaas gesien het.

“Ons probeer ons bes om die buurt netjies te hou, maar daar is mense wat net nie omgee nie. Hoe kan jy wil mors waar jy bly? Dis onmenslik en onhigiënies en ek hoop die skuldiges word gevind en gaan aan die pen ry. Dit kan nie so aangaan nie. Hier is twee skole in die pad. Wat as ’n rot een van die kinders byt? Dan gaan daar moeilikheid wees,” sê hy.

Stevens het ’n klagte by die Stad Kaapstad ingedien en volgens hom het ’n inspekteur uitgekom om die situasie te ondersoek. “Ek het nog nie weer gehoor of hulle iemand geïdentifiseer het nie, maar ek hoop hulle kan dit so gou moontlik oplos,” sê hy.

TygerBurger het ’n navraag na die Stad gestuur, maar het teen druktyd nog nie terugvoer ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article