Inwoners keelvol oor lodge waar stukkende drankbottels en kondome die pad vol lê

Die ingang van Joshua-lodge. INLAS: Stukkende bierbottels op die sypaadjies van Rhodesstraat. FOTO’s: Verskaf


Inwoners van Rhodesstraat in Goodwood is keelvol oor ’n lodge in die omgewing wat na bewering prostitusie toelaat en aanhits.

Volgens inwoners het hulle al baie klagtes aangemeld oor die beweerde prostitute in hul straat, dan kom wetstoepassers, gee ’n boete of twee en dit is dit.

Vyf minute daarna gaan alles weer voort.

Inwoners sê die prostitute drink in die openbaar. Die pad lê vol stukkende drankbottels en kondome.

“Ons wyksraadslid gee ook niks terugvoering nie. Ek het dit nou tot by Kaapstad se burgemeester en die premier gevat. Ek het hulle almal per e-pos gekontak,” vertel ’n inwoner van Rhodesstraat.

“Ons kan nie meer so lewe nie,” sê ’n inwoner.

“Reg langs die betrokke lodge is ’n crèche. Die arme kinders moet elke dag aanskou hoe die prostitute ’n besigheid maak van ons pad.”

Hierdie inwoners sê hulle doen al jare lank alles volgens die wet, maar dit beteken niks. Dit raak net erger.

“Duidelik beteken om dinge volgens die wet te doen niks, want misdaad raak net erger en erger.”

Bakkie jaag deur lodge se hek

Wat hierdie keer die wenkbroue laat lig het, was toe daar op Donderdag 30 Augustus ’n bakkie deur die lodge se hek gejaag het, wat mense kon beseer.

Die bakkie het daarna teen ’n onverskillige spoed weggejaag.

“Die Stad Kaapstad is baie vinnig besig om ons wetsgehoorsame burgers in misdadigers te verander, want om ons buurt te beveilig, sal ons eie reg moet begin gebruik. En dan raak die prostitute aggressief met ’n mens.”

Die inwoners doen ’n beroep dat dinge baie vinnig moet verbeter in Goodwood.

“Met of sonder wetstoepassers, ons gaan nou die voet begin dwars sit en sê genoeg is genoeg.”

Volgens kapt. Wayne Theunis, kommunikasiebeampte van die Goodwood-polisie, is hulle bewus van die perseel en voer gereeld operasies daar uit.

Lodge is al vir jare ’n probleem

John Ross, voorsitter van Goodwood se Gemeenskapspolisiëringsforum, (GPF) sê die lodge is op ’n onlangse vergadering bespreek.

“Hierdie lodge is nou al vir ‘n paar jaar ‘n probleem,” sê Ross.

Die polisie en wetstoepassers tree al lank op. Ross sê die lodge moet ingevolge die wet bedryf word.

Volgens die eienaar van die lodge, Victor Bongna, was die bakkie se remme foutief en daarom het hy deur die hek gery.

Hy beweer dat daar geen onwettige aktiwiteite by die instansie aan die gang is nie en dat inwoners net daarvan hou om te kla. Hy sê niemand het ooit na hom toe gekom en met hom oor enigiets gepraat nie.

“Ek het ook klagtes ontvang”

Volgens die wyksraadslid Cecile Janse van Rensburg is die perseel private eiendom en is dit onlangs onder haar aandag gebring deur ‘n inwoner wat ook gesien het hoe ‘n voertuig die perseel op ‘n beweerde onverantwoordelike wyse verlaat.

Aangesien alle versoeke as prioriteit beskou word, is die inwoner se klagte na die betrokke Stad Kaapstad-departemente geëskaleer om die bewerings van beweerde prostitusie en roekelose gedrag deur die voertuigbestuurder wat die perseel verlaat het, te ondersoek, sê Janse van Rensburg.

Sy gaan verder en sê bewerings van anti-sosiale gedrag is vroeër onder die Stad se aandag gebring en daarom het die Stad klagtes van inwoners ook in April 2021 ondersoek. Tans word alle “nuwe” bewerings deur die betrokke stadsdepartemente ondersoek.

“Ek het ook klagtes wat oor hierdie perseel ontvang is met Goodwood se polisie bespreek.”

Volgens Theunis is daar geen rekord van die bakkievoorval nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article