Inskrywings is reeds oop vir vanjaar se Tyger Run/Walk. Die padwedloop, aangebied deur Radio Tygerberg 104FM, vind op 21 Maart weer by die Tygervallei-winkelsentrum in Bellville plaas.
Atlete of stappers het weer eens ’n keuse om aan ’n 15-km- of 6-km-roete deel te neem. Die wedlope begin onderskeidelik om 06:45 en 07:45.
“Die Tyger Run/Walk is jaarliks ’n gesinsgeleentheid. Dit is goed vir atlete wat voorberei vir die Two Oceans, maar ook vir diegene wat op die vakansiedag net ’n bietjie aktief wil verkeer,” sê Rikus van Rooy, programbestuurder by Radio Tygerberg.
Discovery Vitality is deel van Tyger Run/Walk 2024 en deelnemers kan tot 600 punte vir die 15-km-wedloop en 300 punte vir die 6-km-wedloop behaal. Die Tyger Run/Walk is ook ’n kwalifiseerder vir ander wedlope.
Inskrywings kan aanlyn gedoen word by www.topevents.co.za. Inskrywingsgeld vir die 15 km-wedloop beloop R190 (ongelisensieerde atlete) en R130 (gelisensieerde atlete). Die prys vir die 6 km-roete is R100. Alle inskrywings sluit ’n tydberekeningskyfie in.





