Markus du Plessis (2) is serebraal verlam. Sy ouers samel geld in om hom vir ’n lewensveranderende operasie in Amerika te neem.


Met ysere wil en derduisende pannekoeke is die Du Plessis-gesin se droom om hul seun, Markus (2), Amerika toe te stuur, al halfpad bewaarheid.

Hul voorspoed het egter nie sonder enige teëspoed gekom nie en die operasie, wat Markus se lewe hopelik ten goede sal verbeter, is met ’n paar maande uitgestel nadat sy pa in ’n ernstige motorfietsongeluk was.

TygerBurger het verlede jaar berig (“Bak pannekoek, help seun (2)”) serebrale verlamming is op 14 maande by Markus gediagnoseer. Dit was ’n tyding wat sy gesin soos weerlig getref het.

“Dit was verskriklik – asof iemand in die huis dood is,” het sy ma, Sarisha, destyds vertel oor die oomblik toe hulle daarvan uitgevind het.

Dié siekte veroorsaak verlamming, onwillekeurige spierspasmas en dikwels ongewenste bewegings.

Party lyers sukkel met lompheid en ander kan nie hul hande doeltreffend gebruik nie. Ander het intellektuele probleme.

Sarisha het naarstigtelik navorsing begin doen en gehoor van ’n operasie wat deur dr. TS Park by die Center for Cerebral Palsy Spasticity in St. Louis, Amerika, gedoen word.

Met behulp van ’n gespesialiseerde senuwee-operasie aan die lae rugstring – selective dorsal rhizotomy – help hy om kinders meer beweeglik te maak. Hoe jonger hoe beter. Die operasie beloof om sy lewensgehalte aansienlik te verbeter.

Met die ligpunt van ’n moontlike operasie het hulle egter gehoor dit sal hulle sowat R1,5 miljoen kos (met vliegtuigkaartjies, verblyf en die operasie ingesluit) om hul droom te bewaarheid.

Die familie kon nie “met bak handjies” sit nie en het besluit om pannekoekmengsel in eenliterbottels te verpak en te verkoop. Hulle verhandel dit onder die naam “Shake & Bake” en die deeg verkoop teen R30 per bottel.

Sedertdien het gemeenskapslede volstoom aan die bak gegaan. Ander het ingespring met ander geldinsamelings en veilings – alles om die gesin by te staan.

Uitsig-kleuterskool in Ridgeworth, waar Markus ’n leerder is, en Fairmont High School, waar Sarisha werk, het ook al geldinsamelings gehou.

’n Groot hupstoot was egter toe die program Dankie, Lottoland, van hul storie gehoor en R100 000 geskenk het.

Hulle staan nou op net meer as R800 000 en hoop om nog R500 000 in te samel.

“Dit was ’n bietjie stil in die somer,” sê Sarisha, “maar dit gaan verskriklik goed.”

Die Du Plessis’s was volstoom op pad om Markus se operasie in April te laat doen, maar hul planne is in November in ’n stadiger rat geplaas.

Ryno, Markus se pa, wat op sy motorfiets op die N1 gery het, is deur ’n motor getref toe dié van bane verwissel het. Onder meer sy been is op verskeie plekke gebreek en hy ondergaan intensiewe rehabilitasie.

Dit gee die gesin darem meer tyd om geld in te samel en Sarisha sê hulle dink voortdurend aan nuwe idees om die teikenbedrag te haal.

“Ons hoef nie by pannekoek te stop nie,” sê sy vasberade. “In hierdie stadium moet ons alles in ons vermoë doen om daardie geld te kry.”

Sy wil binnekort byvoorbeeld ’n damestee hou waar hulle geborgde produkte gaan opveil om geld in te samel.

Intussen maak hulle steeds daagliks pannekoekdeeg en probeer moed hou, al is dit soms moeilik. Dit was veral rondom Kersfees ’n uitdaging, sê sy.

“My hart kon nie help om ’n bietjie swaarder te word as ek gesien het hoe mammas op groepe opgewonde raad vra vir hul tweejarige om te kies tussen ’n fiets of ’n trampolien vir Kersfees,” sê sy op die Shake & Bake-Facebookgroep. “Ek wonder steeds soms, hoekom hy? En met my hele hart wens ek hy kan net eendag opstaan en loop.”

Sy sê hy kan ook al sien hy is anders omdat al die ander kinders in sy klas kan loop. “En dit breek ons harte.”

Een ding is seker – hulle gaan nie ophou totdat hulle alles in die stryd gewerp het om vir hom die beste lewe moontlik te gee nie.

“Ons glo vas hy gaan nog loop.”

Om pannekoek te bestel of om bankbesonderhede te kry, stuur ’n WhatsApp na Sarisha by 082 476 7259. Die deeg kom in eenliterbottels en kos R30. Bestellings kan binne twee dae in Stellenberg afgehaal word.

Daar is ook ’n BackaBuddy-blad (Help Markus get to America!) waar weldoeners geld kan skenk.

Volg die res van Markus se verhaal op Sarisha se Facebook-blad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article