’n Bellrail-huishouding in Drommedarisstraat sit nou al vir langer as ’n maand met verspoelde toilette.


’n Huishouding in Drommedarisstraat, Bellrail, sit al langer as ’n maand met oorspoelde toilette ná die eerste klagte in desperaatheid aan die Stad gerig is op soek na dringende dienslewering.

“Dit is verskriklik erg om met oorspoelde toilette te sit – dit is nou al langer as ’n maand!

“Dit is nie reg nie; die diens van die Stad Kaapstad is uiters swak – en dit teenoor die mense wat elke liewe verkiesing vir die einste regering stem!”
Bertus Crawford

“Dit is nie reg nie; die diens van die Stad Kaapstad is uiters swak – en dit teenoor die mense wat elke liewe verkiesing vir die einste regering stem!”

Só het Bertus Crawford, ’n pensioenaris, sy frustrasie met TygerBurger gedeel.

Hy het ná weke sedert sy oorspronklike versoek al verskeie verwysingsnommers van die Stad ontvang.

Op Sondag 14 Junie het stadswerkers oplaas aan sy versoek gehoor gegee, en bevind dat die oorspoeling spruit uit ’n rioolafvoer in die oop veld aangrensend aan Bellrail-weg.

“Die Stad se manne het gekom en die rioolafvoer kom oopspuit, en daarna het die water in ons toilette gesak. Toe dink ek die probleem is opgelos,” het Crawford in ’n opvolgoproep bevestig.

Maar dit was van korte duur, aangesien die toilette net mooi die volgende dag weer tot oorlopens toe gespoel is.

Vernederend

“Ons is nou al só raadop. Kan jy jou indink hoe erg dit is om langer as ’n maand nie jou toilette te kan spoel nie? Ons word gedwing om onsself in die agtertuin te verlig. Dit is só vernederend!”

Volgens Zahid Badroodien, die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, weet hulle van die probleem.

Hy meen die probleem kom van ’n ineengestorte rioollyn in Voortrekkerweg, Bellville.

Badroodien het TygerBurger verseker dat die herstel van die ineengestorte rioollyn tans aandag geniet.

Hy het bygesê dit was nie net Crawford se toilette wat geraak is nie, maar die hele Bellville-sentraal- en Bellrail-gebiede, wat Charl Malan, Bellville-Suid, Drommedarisstraat, Suidstraat en Durbanweg insluit.

“ ’n Aansoek om ’n gebruiksregpermit is ingedien om op Transnet se eiendom te werk.

“Transnet moet adviseur oor die ligging van sy ondergrondse dienste gedurende die konstruksietydperk om die herstelwerk aan die ineengestorte riool te doen,” het hy gesê.

Badroodien meen dit behels die opspoor van seinkabels of enige ander onbekende ondergrondse dienste wat gedurende die konstruksietydperk beskerm moet word.

“Die werk sal na verwagting minstens twee weke duur,”
Zahid Badroodien

het Badroodien teen Woensdag 10 Julie bevestig.

Oop veld

Maar, Crawford is oortuig die oorspoelde toilette is eerder ’n gevolg van die rioolafvoer in die oop veld naby sy huis.

“Ons bure sit nie met dié probleem nie. Dis slegs ons huis wat geraak is,” het hy aan TygerBurger gesê.

Hy meen dit is ook nie die eerste keer dat die probleem kop uitsteek nie.

“Hierdie selfde probleem gebeur byna elke jaar, omrede die pype te oud is en vervang moet word.”

Ten slotte het Badroodien gebieg: “Verlede jaar het die Stad ook ’n ineengestorte rioollyn herstel waarvan die skade weens veroudering veroorsaak is.”

Verdere navrae is aan die Stad gerig om op te volg oor die blywende probleem, maar terugvoer is nie betyds vir publikasie ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article