Die Netcare N1 Stad-hospitaal se jaarlikse kuns-en-kultuurfees het Maandag begin met die tema “Festival with a Pawpose”.
Soos jy by die hospitaal instap, word jy begroet deur die voetspore van verskillende diere, wat na verskillende ingange lei.
Gedurende vanjaar se kuns-en-kultuurfees beklemtoon dié hospitaal die belangrike rol wat diere in die samelewing, sowel as in verskillende kulture, speel.
Diere speel ’n belangrike rol
Ines Kruger, menslikehulpbron-bestuurder van Netcare N1 Stad-hospitaal, sê sy wou ’n geleentheid skep vir personeel wat vuisvoos is ná die afgelope twee jaar, om net ‘n lewende wesentjie vas te hou.
“Ek het gevoel net die blote aanraking van die warm lyfie sou die afgelope twee jaar se seer vir daardie oomblik laat wegsmelt – ’n hondjie se drukkie of ogies laat ’n mens sommer gou van die duisternis vergeet.
Aangesien hierdie hospitaal elke jaar ’n kultuurfees hou, wou Kruger die twee dinge met mekaar verbind en het besef dat diere van die oertyd af al ’n belangrike rol in die mens se lewe gespeel het, en steeds speel. “Hulle vorm deel van ons geskiedenis, ons menswees en in verskillende kulture het diere verskillende betekenisse.”
Feesviering met ’n doel
Vandaar die “Festival with a Pawpose”.
“Die bestuurskomitee het gevoel dat die fees inderdaad ’n doel moet hê en het besluit om donasies in te samel vir die diereskuilings wat die hospitaal tydens die fees ondersteun.
“Die doel met die fees elke jaar is om meer oor mekaar en ons verskeie kulture te leer – die ware mens agter die uniform en om individualiteit te vier,” sê sy.
Hul tema in 2019 was “True colours” en volgens Kruger is pasiënte, besoekers en personeel tydens hierdie kultuurfeeste een groot familie. “Ons lag, sing en dans saam.”
Kruger is baie passievol hieroor, en hoop om volgende jaar, as daar genoeg geld ingesamel kan word, ’n muurskildery op die hospitaal se buitemuur te hê, wat “embracing and celebrating diversity” versinnebeeld.
Kruger se droom is dat die Netcare N1 Stad-hospitaal soos ’n vuurtoring bo water uitstaan, waar beide pasiënte en personeel voel hulle is werklik in veilige hande.
“Dit moet ’n baken en getuienis wees van die liefde en genade van ons Here.”





