Vir talle haweloses en dwelmverslaafdes is die daaglike lewe ‘n opdraande stryd. Tog is daar verlede week, op 9 Oktober by die Parow-burgersentrum aan van hulle die geleentheid gegun om van die dag se uitdagings te vergeet — al was dit van korte duur — toe ‘n talentskou vir hulle aangebied is.
Die talentskou, wat deur die Voortrekkerweg-korridorverbeteringsdistrik (VRCID) aangebied is, is deur sowat 100 mense bygewoon. Die skou het ‘n modeskou, sang en dans ingesluit en is in die Parow-stadsaal gehou.
Betekenis
Jonathan Jantjies, seremoniemeester, is een van diegene wat ‘n moeilike pad tot hiertoe gevolg het, maar vir wie die talentskou en die ondersteuning van die VRCID ‘n bron van krag is.
“Vandag is vir my ‘n dag wat ‘n mens kan vier met mense soos jouself. Die lewe het my ‘n knou toegedien, maar ek het baie kom leer oor mense, gebrokenheid en oor herstel en dit is waarom ek vandag weer myself kan wees. ‘n Mens kom uit ‘n donker gedeelte van jou lewe, maar hier het ek mense kom ontmoet, mense wat die Here op my pad gestuur het, wat my weer opbou en my hoop gee en daai selfwaarde terugbring.”
Jantjies werk tans in een van die VRCID programme. Sy rol as seremoniemeester is vir hom ‘n groot bydrae tot die dag se verrigtinge, om saam te kan wees en om mense se talente te kan vier.
Een van die deelnemers, Ricardo Davids, het ‘n gewilde plaaslike liedjie gesing waarvoor die skare behoorlik gaande was.
“Ek het ‘n moeilike lewe gelei, want ek het nie ‘n pa gehad nie. Op die ouderdom van sewe jaar het my ma ‘n man geneem, my stiefpa. Hy het nie eintlik geweet hoe om ‘n pa-figuur vir ons te wees nie, want hy het ook sonder een grootgeword. Ons is baie mishandel. Dis hartseer om daaraan te dink, maar vandag haal ek my hoed af vir hom, omdat hy my ma nog respekteer en hy haar nie mishandel nie.”
Hy het die Bellville MES verteenwoordig.

Davids sê sy liefde vir sing het as kind reeds begin. “My ma sou musiek speel terwyl sy wasgoed doen, en dis waar ek begin saamsing het.”
Mariymah Marlene Evette Williams, nog ‘n deelnemer aan die dag se program, het net soos Davids haar lewenstryd oorkom.
Hoewel sy nog vandag haweloos is, meen sy dat dinge baie beter is in haar lewe danksy die VRCID. Sy woon al 15 jaar lank op straat.
“My ma se dood het my erg geruk,” sê sy.
Sy het vroeg die skool verlaat, op ‘n jong ouderdom ‘n baba gehad en daarna in dwelms verval. Sy het ‘n plaaslike kerk besoek waar sy haar lewe omgedraai het.
“Ek het my hart vir die Here gegee,” sê Williams, wat nou al byna agt maande skoon is.

Sy het by die talentskou betrokke geraak ná haar kontak met die VRCID waar sy nou al drie maande by hul herwinningsafdeling werk.
Die talentskou is ook deur Rachel Lott, wat voorheen op straat geleef het en ook herstel ná ‘n stryd met dwelms, geprys.
“Dit maak dat mense ons sien. Ons is ook net mens. Ander sal ons nie meer kan klassifiseer oor hoe ons lyk nie,” sê Lott.
Lott, wat twee jaar lank skoon is en 18 jaar op straat was, werk ook by die VRCID. Sy het by dwelms betrokke geraak, ook ná haar ma se dood.

Sy het ook ‘n boodskap aan ander wat hulself steeds in ‘n donker gat bevind. “As jy dink jy is minderwaardig, moenie vergeet nie, daar is iemand wat ons geskape het en dit is die man van bo, en hy is al een wat ons gaan uithaal, maak oop en sê Vader hier is ek, neem my foute.”






You must be logged in to post a comment.