’n Ongeluk in Plattekloofweg het onlangs die lewe van ’n vrou (24) geëis.


’n Gru-ongeluk in Plattekloofweg wat die lewe van ’n vrou geëis het, het weer die kollig gewerp op padveiligheid in dié gebied.

Volgens ’n plaaslike buurtwag het die bestuurder van ’n motor ’n gaping tussen die motor voor hom, en die een langs hom probeer neem. Hy was glo onsuksesvol en het beheer verloor waarna die motor die randsteen en toe ’n boom getref het. Die voertuig het in twee geskeur.

Op foto’s wat met TygerBurger gedeel is, kan gesien word hoe die voertuig middeldeur geskeur het.

Die ongeluk het glo in die rigting van Bothasig, net ná die Rothschild-boulevard-afdraai, gebeur.

’n Vrou is op die toneel dood. ’n Man, glo die bestuurder, is in ’n ernstige toestand na ’n hospitaal geneem.

AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, het die ongeluk op Sondag 26 Junie bevestig.

“Die polisie het ’n klagte bygewoon in Plattekloofweg, naby Welgelegen. Met die polisie se aankoms is die lyk van ’n onbekende vrou gevind. ’n Man was ook op die toneel, wat ernstige beserings opgedoen het,” sê Swartbooi.

Die vrou (24) is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Die man (28) is na ’n nabygeleë hospitaal geneem, sê hy.

Die polisie het ’n saak van strafbare manslag geregistreer vir verdere ondersoek.

Kevin Jacobs, woordvoerder van die Stad Kaapstad se verkeersdienste, sê die voorval is deur die polisie hanteer en dat die verkeersdienste net hulp verleen het.

Paul Kruger, lid van die Plattekloof, Welgelegen, Panorama en Kleinbosch-buurtwag (PWP), het die verkeersdienste, brandweer, polisie sowel as al die omliggende buurtwagte wat die toneel bygewoon het, bedank. Dit sluit die PWP, Edgemead, Bothasig en Monte Vista en Plattekloof Glen-buurtwagte in.

Kruger sê mense moet veilig wees op die paaie en te alle tye hou by die spoedgrense.

“Dit is maar ’n probleem in Plattekloofweg. Ons kry baie klagtes, veral oor dié pad en die N1-snelweg. Ons wil mense bewus maak dat spoed die dood kan veroorsaak,” sê Kruger.

Cheryl Visser, wyksraadslid, is ook van die gru-ongeluk in kennis gestel.

“Die motor het letterlik om ‘n boom op die middel-eiland gevou. Ek weet vir seker dat ‘n vrou, wat voor ‘n passasier was, op slag oorlede is. Ongelukkig weet ek glad nie wat met die bestuurder gebeur het nie en of daar ander insittendes was nie. Ook nie wat die oorsaak van die ongeluk is nie.

“Die boom is ontwortel en was onstabiel. Die parke-hoof vir ons gebied het Maandag ‘n besluit geneem om eerder die boom heeltemal te verwyder,” sê Visser.

Sy sê daar is daagliks klagtes van motors wat in Plattekloofweg jaag – ook in Uys Krige-rylaan, Rotchschild-boulevard en Gert van Rooyen-rylaan.

“Daar is ook heelwat klagtes oor voertuie wat op die N1 en in Giel Basson-rylaan jaag.”

Visser voeg by: “In die nag is daar ook gereeld motorfietse wat jaag en ‘doughnuts’ maak in Plattekloofweg. Twee mense is ook in afsonderlike ongelukke hier die afgelope paar jaar oorlede.”

Visser sê inwoners moet stilhou by die stoptekens en verkeersligte en hou by die toegelate spoedgrens. “Daar is algehele wetteloosheid en disrespek vir padreëls.”

Inwoners kan onwettige optrede op paaie by die Stad aanmeld deur 021 480 7700 (van ’n selfoon af) en 107 (van ‘n landlyn af) te skakel, of e-pos stuur na Traffic.Services@capetown.gov.za.

Enigiemand met inligting oor die ongeluk kan die polisie se Stop Misdaad by 08600 10111 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article